Nuus 11:00
BULLETIN 7 November 11 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi waarsku oor die verreikende gevolge as gesondheidsorg ‘n geldmakery word
# Die EFF eis die Konstitusionele Hof moet sy uitspraak oor Phala Phala bekendmaak
# En krieket: Laura Wolvaardt is bo-aan die kolf-wêreldranglys ná haar Wêreldbeker-vertoning
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, bepleit ‘n hernude verbintenis tot universele gesondheidsdekking wat in eenheid, gelykheid en volhoubaarheid gewortel is. Hy het die G20-vergadering van ministers van Gesondheid in Polokwane, Limpopo, toegespreek waar probeer word om politieke leierskap wêreldwyd in ooreenstemming te bring met regverdige, verantwoordbare en lewenskragtige gesondheidsorgstelsels. Motsoaledi waarsku oor die alomteenwoordige bedreiging van wins voor gesondheidsorg en voeg by dit moet deur samewerking voorkom word:
# Die EFF sê lede sal later die maand na die Konstitusionele Hof in Johannesburg opruk om die bekendmaking van die uitspraak oor die hersiening van die Parlement se besluit van die onafhanklike paneelverslag oor Phala Phala te eis. Die paneel het bevind daar was prima facie bewyse van misdadige bedrywighede met die diefstal op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo. Die EFF sê as die hoogste hof nie die beslissing bekendmaak nie, gee dit geloofwaardigheid aan die agterdog dat die regbank gekaap is.
# Altesaam 435 akademici van universiteite in die land vra die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, om nie ‘n onafhanklike assessor by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap aan te stel nie. Die universiteit se raad het die minister se plan verwerp en waarsku die assessor sal bestaande ondersoeke dupliseer en die instelling se reputasie onnodig skend. Die akdemici sê in ʼn brief aan die minister ʼn nasionale administrasie is nodig wat bereid is om die ernstige probleme by alle universiteite te hanteer.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het gestem om sanksies op te hef teen Sirië se president, Ahmed al-Sharaa, en die minister van Binnelandse Sake, Anas Khattab. Die Amerikaans-opgestelde besluit is met 14 stemme aanvaar terwyl China buite stemming gebly het. Sharaa het die magte gelei wat Bashar al-Assad onttroon het, en is in Januarie vir ʼn oorgangstydperk aangestel. Amerika se ambassadeur by die VN, Mike Waltz, beskryf die besluit as ʼn erkenning dat Sirië ʼn nuwe era betree het:
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, se uitstekende vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi in Indië het haar bo-aan die ranglys van eendagkolwers geplaas. Sy het honderdtalle aangeteken in die halfeindstryd teen Engeland en die eindstryd teen die gasvroue, wat Suid-Afrika met 52 lopies verloor het. Wolvaardt het altesaam 571 lopies in die toernooi gemoker – die meeste in ‘n enkele toernooi. Sy het daarmee vir Smriti Mandhana van Indië verbygesteek. Ash Gardner van Australië is derde, die Engelse kaptein Nat Sciver-Brunt vierde, en Beth Mooney, ook van Australië, vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-950-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-8-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….