Nuus 06:00
BULLETIN 7 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika bespoedig die uitbreiding van sy handelsmarkte
# Die Koeberg Eenheid 2-lisensie word met 20 jaar verleng
# En krieket: Quinton de Kock lei die Proteas na ’n oorwinning in die tweede eendagwedstryd teen Pakistan
# President Cyril Ramaphosa sê deel van ‘n omvattende reaksie op die wêreldwye ontwrigting van ekonomiese handelsvloei is die versnelling van die uitbreiding van markte en produkte vir Suid-Afrikaanse uitvoere. Hy het gister vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Ramaphosa sê terwyl die regering aktief met beide die VSA en die Europese Unie saamwerk oor handelsake, hy ook die instelling van die Afrika- kontinentale vryhandelsgebied eerste stel en uitvoerinisiatiewe uitbrei:
Ramaphosa sê intussen die beste manier om onwettige immigrasie te stop, is om die land se grense te beveilig. Hy het gesê die nuwe elektroniese reismagtigingstelsel het reeds meer as 200 aansoeke deur G20-afgevaardigdes hanteer, vir hierdie maand se beraad by die Nasrec-eksposentrum in Johannesburg en sal binnekort uitgebrei word na toeristevisums. Hy waarsku teen aanvalle op buitelanders aangesien die wet gevolg moet word:
# Die hoof van die Direktoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, sê daar was ‘n ondersoek waarby beide die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, en die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris, Nhanhla Mkhwanazi, betrek is. Die saak was afkomstig van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat. Johnson het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê daar was onvoldoende bewyse om teen albei op te tree. Sy het ook beklemtoon daar is geen heksejag teen Masemola of Mkhwanazi nie:
# Koeberg Eenheid 2 se bedryfslisensie is met 20 jaar verleng, net dae voor die oorspronklike vervaldatum. Die Nasionale Kernreguleerder het die verlenging goedgekeur na ‘n omvattende hersieningsproses, wat die eenheid in staat stel om tot November 2044 operasioneel te bly. Dit volg op ‘n soortgelyke 20-jaar verlenging wat in Julie 2024 aan Eenheid 1 toegestaan is. Die goedkeuring volg na ‘n omvattende en deursigtige regulatoriese proses, insluitend openbare verhore in die Noord- en Wes-Kaap. Die verlenging verseker dat Koeberg steeds ‘n totale opwekkingskapasiteit van een-duisend-860 megawatt lewer, wat noodsaaklik is vir Suid-Afrika se energievoorsiening.
# ‘n Sekerheidsoudit is ‘n dekade gelede by die Louvre-museum in Frankryk begin, maar die opgraderings sal eers in 2032 voltooi wees. Die staatsouditeur sê in ‘n verslag, wat voor die waaghalsige rooftog verlede maand saamgestel is, slegs 39-persent van die museum se lokale het teen 2024 kameras gehad. Die rooftog waartydens vier rowers helder oordag met juwele ter waarde van miljoene weggekom het, het twyfel laat ontstaan oor die geloofwaardigheid van die wêreld se gewildste museum. Ondersoekbeamptes het wel vier verdagtes vir betrokkenheid by die rooftog aangekla, maar die juwele is nog nie teruggevind nie.
# Krieket: Quinton de Kock het ‘n honderdtal aangeteken en Suid-Afrika gelei na ‘n oorwinning met agt paaltjies teen Pakistan in die tweede eendagwedstryd in Faisalabad, om die reeks van drie wedstryde met een elk gelyk te maak. Nandre Burger het vier paaltjies geneem en die Proteas het die gashere tot 269 vir nege beperk. In antwoord het Lhuan-dre Pretorius ‘n openingsvennootskap van 98 lopies met De Kock gedeel, wat ‘n onoorwonne 123 aangeteken het. De Kock het ook ‘n vennootskap van 153 lopies om die tweede paaltjie met Tony de Zorzi gedeel. Suid-Afrika het die teiken bereik met 59 balle oor. Die laaste eendagwedstryd is môre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-306-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-982-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….