Nuus 15:00
BULLETIN 6 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vodacom se betaling aan die uitvinder van “Please Call Me”- uitvinder kan honderde miljoene-rand beloop
# Die hof verwerp die aansoek deur adjunk-president Mashatile se gewese lyfwagte om aanrandingsklagte teen hulle te laat vaar
# En krieket: Die IPL-kampioen RCB is moontlik te koop vir tot 35-miljard-rand
# Vodacom het Kenneth Nkosana Makate moontlik tussen 353- en 748-miljoen rand betaal in ‘n skikking oor sy “Please Call Me”-uitvinding. Die bedrag word beraam volgens die uitwerking wat die skikking gehad het op Vodacom se verwagte verdienste vir sy tussentydse finansiële jaar wat op 30 September geëindig het. Die selfoon-netwerk het gister aangekondig dat die saak ná ‘n hofstryd van 17-jaar buite die hof geskik is. Vodacom het ook gesê die vertroulike skikking is in sy tussentydse uitslae verreken wat hy Maandag moet uitreik.
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het die aansoek van agt gewese lyfwagte van adjunk-president Paul Mashatile verwerp om 12 aanklagte teen hulle te laat vaar – insluitend aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak teen die lede van die BBP-beskermingseenheid volg op ‘n voorval in Julie 2023 toe ‘n video van die agt geneem is waar hulle twee soldate op die N1 naby Fourways in Johannesburg aangerand het. Die Nasionale Vervolgingsgesag het hul aansoek om ontslag teengestaan. Die saak is tot Maart uitgestel.
# Die DA veroordeel die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, se stilswye terwyl die ingewandskoors-uitbreking in Hammanskraal versprei. Die party eis dat die Departement van Water en Sanitasie se toets-uitslae bekend gemaak of met onafhanklike kenners gedeel moet word. Die party waarsku dis gevaarlik om op watertenkwaens staat te maak en dring aan op infrastruktuuroplossings om nog ‘n gesondheidskrisis te voorkom. Cilliers Brink van die DA sê Moya, wat tans in Brasilië is, moet terugkeer om met inwoners te praat:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê geringe spore van ‘n smeerbare en taai blink, donker stof is die afgelope paar weke langs strande aan die Tuinroete se kuslyn opgemerk. Die oorsprong is onbekend. Die munisipale woordvoerder, Herman Pieters, sê wanneer hierdie voorvalle ter see voorkom, is die Nasionale Departement van Vervoer verantwoordelik om die storting te hanteer en die nodige gebeurlikheidsplanne in werking te stel:
# Krieket: Die verdedigende Indiese Premierliga-kampioen, Royal Challengers Bengaluru, kan moontlik binnekort te koop wees – teen ‘n verstommende 35-miljard-rand. Die eienaars, United Spirits Limited, het aan die Mumbaise Aandelebeurs gesê hulle het begin met ‘n strategiese hersiening van hul belegging in RCB. Volgens uitvoerende hoof Praveen Smoeshwar was die span ‘n waardevolle en strategiese bate, maar is nie die kern van hul drank-onderneming nie. Die eienaars oorweeg dit glo onder meer om minstens ‘n deel of die hele span te verkoop, wat die vrouespan insluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-143-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-9-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….