Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Novemer 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-mans is onder druk om die eendagreeks teen Pakistan te red terwyl die twee spanne vandag in die tweede ontmoeting in Faisalabad speel. Die gashere het Dinsdag die eerste wedstryd gewen nadat hulle die T20-reeks ook beklink het nadat die toetsreeks gelykop was. ‘n Oorwinning in die oorblywende twee eendagwedstryde is van uiterste belang vir die besoekers om die toer te red. ‘n Relatief onervare span is vir die witbalreekse gekies omdat ‘n aantal gereelde spelers ruskans kry voor die komende toetsreeks in Indië. Pakistan kolf eerste vandag.
Die paaltjiewagter en kolwer Rishabh Pant is intussen ingesluit in Indië se toetsspan vir die reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika wat volgende Vrydag in Kolkata begin. Die 28-jarige Pant, wat verlede maand die reeks teen die Wes-Indiese Eilande weens ‘n voetbesering misgeloop het, is die onderkaptein. Akash Deep is ook terug nadat hy van ʼn rugbesering herstel het. Die snelbouler Mohammed Shami is weer uitgelaat nadat hy weens kommer oor sy fiksheid nie vroeër vanjaar ingesluit is vir die reekse teen Australië en Engeland nie.
# Rugby: Die voormalige Springbok-speler en -afrigter Nick Mallett glo die jong losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu is nie arrogant nie, net selfversekerd. Hy sê hy het wel ‘n effense houding, maar wys daarop dat dit met jeug en talent gepaard gaan, en hy gebruik dit tot sy eie voordeel en dié van die nasionale span. Mallett sê ook die Bokke aanvaar die hupstoot van ‘n nuwe superster met graagte, hoewel sommige mense voel die speler se optrede grens aan arrogansie. Hy dink vertroue in sport is ‘n reuse-voordeel, en Feinberg-Mngomezulu het ‘n wen-houding.
Die SA Vrouespeler van die jaar, Nadine Roos, is intussen onder die groep van 18 spelers wat genooi is om die Springbokvrouesewes-opleidingskamp in Pretoria by te woon. Van die ander genooides sluit in Zintle Mpupha, Byrhandrè Dolf en Ayanda Malinga. Die kamp is deel van die voorbereiding vir die Afrika Vroueseweskampioenskap volgende week in Kenia. Suid-Afrika sal in Groep A teen Zambië, Ghana en Egipte speel waar die top-twee op koers sal wees vir deelname aan 2026 se Rugbysewes-wêrelduitdaagreeks.
# En tennis: Die 24-jarige Amerikaner, Amanda Anisimova, is die eerste keer ooit deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad. Sy het die Pool, Iga Swiatek, in ʼn bepalende wedstryd verslaan. Elena Rybakina van Kazakstan het skoonskip gemaak in die Serena Williams-groep toe sy die Rus Ekaterina Alexandrova geklop het wat ʼn plaasvervanger was vir die Amerikaner Madison Keys. Aryna Sabalenka van Belarus speel vandag teen die Amerikaner Coco Gauff vir ʼn plek in die halfeindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….