Nuus 08:00
BULLETIN 6 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party skors sy adjunkpresident John Hlophe uit alle leiersrolle
# Die Solidariteit Navorsingsinstituut dring aan op beter tariefonderhandelinge om werksgeleenthede te beskerm
# En ‘n noodtoestand word afgekondig na ‘n UPS-vragvliegtuigongeluk in Kentucky
# Die MK-party se adjunkpresident en parlementêre leier, John Hlophe, is met onmiddellike ingang uit alle posisies in die party geskors terwyl ‘n volledige ondersoek na sy gedrag plaasvind. Hlophe se skorsing volg nadat hy veranderinge aangebring het aan die leierskap in die Parlement. Sy verwydering van Colleen Makhubele as hoofsweep is omgekeer en Des Van Rooyen se aanstelling in die posisie is nietig verklaar. Die MK-party se hoof van Presidensie, Magasela Mzobe, het aan die SABC gesê die veranderinge is sonder breër beraadslaging aangebring:
# Die Solidariteit Navorsingsinstituut se jongste tariefbarometer toon dat Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA in September toegeneem het, hoofsaaklik as gevolg van goud, wat vrygestel is van Amerikaanse tariewe. Ekonomiese navorser Theuns du Buisson waarsku dat uitvoere, met die uitsondering van edelmetale, laag en wisselvallig bly. Hy doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om beter handelsvoorwaardes te beding om uitvoere te stabiliseer, werkgeleenthede te beskerm en nywerhede te ondersteun:
# Die EFF in die Noord-Kaap sê hy veroordeel die gebrek aan deursigtigheid by die bedanking van die LUR van Gesondheid, Maruping Lekwene. Dit volg na wat berig word op ‘n ondersoek van die Ombudsman van Gesondheid wat bevind het sy departement is vir twee sterftes verantwoordelik. Premier Zamani Saul het die LUR van Landbou, Mase Manopole, as die waarnemende LUR van Gesondheid aangestel. Die EFF sê die gebrek aan deursigtigheid rondom Lekwene se bedanking is ‘n openlike bewys van disrespek vir wetgewende oorsig en verantwoordelikheid. Die Departement van Gesondheid is volgens die party te noodsaaklik om in onsekerheid gelaat te word.
# Die dodetal nadat ʼn UPS-vragvliegtuig in Kentucky neergestort het, het tot elf gestyg. Die vliegtuig het Dinsdagaand neergestort kort nadat dit by die Louisville Muhammad Ali Internasionale Lughawe opgestyg het. Die Nasionale Vervoer- en Veiligheidsraad sê die linkerkantse enjin het tydens opstyging van die vlerk afgeval en ʼn groot brand veroorsaak. Kentucky se goewerneur, Andy Beshear, sê hy het ʼn noodtoestand afgekondig en die Nasionale Wag ontplooi om hulpbronne onmiddellik beskikbaar te stel:
# Tennis: Die 24-jarige Amerikaner, Amanda Anisimova, is die eerste keer ooit deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad. Sy het die Pool, Iga Swiatek, in ʼn bepalende wedstryd verslaan. Elena Rybakina van Kasakstan het skoonskip gemaak in die Serena Williams-groep toe sy die Rus, Ekaterina Alexandrova, geklop het wat ʼn plaasvervanger was vir die Amerikaner, Madison Keys. Aryna Sabalenka van Belarus speel vandag teen die Amerikaner Coco Gauff vir ʼn plek in die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-676-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….