Nuus 07:00
BULLETIN 6 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassade gee besonderhede oor sy bygewerkte Vlugtelingtoelatingsprogram
# Vodacom en die Please Call Me-uitvinder bereik ‘n skikking buite die hof
# En die Wes-Kaapse sekretaris van die ANC en drie ander sluit by die DA aan
# Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het nuwe inligting gepubliseer oor die Amerikaanse vlugtelingprogram se aansoekproses. Die program is gemik op Afrikaners of lede van ‘n rasse-minderheidsgroep in die land, wat slagoffers is van regeringsondersteunde, rasgebaseerde diskriminasie. Om vir die program te kwalifiseer, moet mense Suid-Afrikaans en ʼn Afrikaner wees, en kan wys dat hulle persoonlike ervaring van vervolging het, of vrees vir vervolging in die toekoms gebaseer op ras, godsdiens, nasionaliteit of politieke standpunt. Amerika sal volgende jaar slegs sewe-duisend-500 vlugtelinge toelaat.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die aftakeling van korrupsie is noodsaaklik voordat dit in die gevangenisstelsel ingewortel raak. Cachalia het getuienis gelewer voor die parlementêre ad hoc-komitee en gewaarsku dat sistemiese korrupsie, insluitend in hospitale en verkryging, ‘n eksistensiële bedreiging vir die land inhou. Hy het gesê meer werk moet gedoen word om verswakte strukture te herbou om te verseker dat diegene wat betrokke is by korrupte aktiwiteite werklike gevolge in die gesig staar:
# Vodacom het buite die hof geskik in die Please Call Me-saak met sy gewese werknemer, Nkosana Makate, en ʼn 17 jaar lange regstryd beëindig. Makate het aangedring op regverdige vergoeding vir die ontwerp van die Please Call Me-diens wat volgens hom neerkom op byna 10-miljard-rand. Vodacom het hom egter voorheen sowat 47-miljoen-rand aangebied. Die ooreenkoms se bepalings is nie bekend nie en Vodacom sê dit sal in berekening gebring word in die groep se tussentydse finansiële verslag vir die ses maande wat op 30 September 2025 geëindig het.
# Vier ANC-lede, insluitend die Wes-Kaapse sekretaris, Neville Delport, het by die DA aangesluit. Dit volg nadat die ANC se nasionale uitvoerende gesag verlede week die provinsie se verkose leierskap ontbind het. Ander lede wat by die DA aangesluit het, is die streek se uitvoerende lid, Jason Donn, en raadslede Daniel Baadjies van Bonnievale en Paul Strauss van Cederberg-munisipaliteit. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê dis ʼn mylpaal-oomblik en weerspieël die ondersteuning van kiesers wat voortgaan om die ANC te verlaat:
# Polisie in die Brittanje soek na twee gevangenes wat per abuis uit HMP Wandsworth in Suid-Londen vrygelaat is. Die 35-jarige William Smith wat aan bedrog skuldig bevind is, is Maandag vrygelaat. ʼn Algerynse seksoortreder, die 24-jarige Brahim Kaddour-Cherif, is verlede week vrygelaat. Hy het Brittanje in 2019 op ʼn besoekersvisum binnegegaan, en in Februarie 2020 is bevind hy het sy visumtydperk oorskry. Die minister van Justisie, David Lammy, sê ʼn onafhanklike ondersoek sal vasstel wat verkeerd geloop het en die toename in verkeerde vrylatings hanteer.
# Krieket: Die Protea-mans is onder druk om die eendagreeks teen Pakistan te red wanneer die twee spanne vandag in die tweede ontmoeting in Faisalabad speel. Die gashere het Dinsdag die eerste eendagwedstryd gewen nadat hulle die T20-reeks ook beklink het met die toetsreeks wat gelykop was. ‘n Oorwinning in die oorblywende twee eendagwedstryde is van uiterste belang vir die besoekers om die toer te red. ‘n Relatief onervare span is vir die witbalreeks gekies omdat ‘n aantal gereelde spelers vir die komende toetsreeks in Indië ‘n ruskans kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-831-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-970-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….