Nuus 13:00
BULLETIN 5 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog opspraakwekkende getuienis voor die Madlanga-kommissie
# GOOD kritiseer die George-munisipaliteit nadat ‘n eis teen die eienaar van die ingestorte gebou teruggetrek is
# En rugby: Die Springbok-senter Lukhanyo Am vertrek na Japan
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het aan die Madlanga-kommissie gesê die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het die Hooggeregshof in Pretoria gevra om sy eiendom terug te kry. Die items, waaronder vyf vuurwapens, is afgeneem tydens ‘n klopjag op sy huis. Matlala word van poging tot moord aangekla. Khumalo sê die wapens word steeds ondersoek. Hy sê die aansoek is in Desember verlede jaar van die hand gewys omdat dit nie dringend was nie, en Matlala het dit dadelik teruggetrek:
# Die GOOD-party is teleurgesteld oor die George-munisipaliteit se besluit om sy skadevergoedings-eis van byna tien-miljoen-rand teen die eienaars van die ingestorte gebou in Victoriastraat terug te trek. Altesaam 34 werkers is dood toe die gebou verlede jaar ingetuimel het. Die perseel gaan later dié maand opgeveil word sodat likwidateurs geld van die eienaars kan verhaal. Chantelle Kyd van GOOD sê dis duidelik dat aanspreeklikheid opsioneel is wanneer dit kom by eiendoms-eienaars wat magtig is of bande met hooggeplaastes het:
# Die afdeling Veeartsenydienste van die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ‘n eiendom in Gouda onder kwarantyn geplaas. Dit volg nadat ‘n boer van die Vrystaat vermoedelike letsels van bek-en-klouseer aangemeld het van beeste wat onlangs uit die Gouda-gebied daarheen vervoer is. Die departement se woordvoerder, Mary James, sê veeartse het tydens die inspeksie seerplekke in die beeste se bekke waargeneem het. Sy sê monsters is geneem en vir laboratoriumtoetse gestuur om te bepaal of dit wel bek-en-klouseer is.
Die Departement van Landbou het intussen ‘n waarskuwing uitgereik oor hoërisikogebiede vir hondsdolheid in Suid-Afrika, waar die siekte onder honde, Kaapse pelsrobbe en ander soogdiere voorkom. Hondsdolheid is ‘n dodelike virussiekte wat alle soogdiere aantas en in die speeksel van besmette diere na mense kan versprei. Die departement se woordvoerder, Prince Mtsweni, sê daar was vanjaar menslike sterftes in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo wat toegeskryf kan word aan hondsdolheid:
# Rugby: Die Springbok-senter Lukhanyo Am verlaat die Haaie om sy loopbaan in Japan voort te sit. Die 31-jarige dubbele Wêreldbeker-wenner het meer as 100 wedstryde vir die Durbanse span gespeel sedert hy in 2016 van die Southern Kings by hulle aangesluit het. Am het ‘n kontrak met die Japannese span Sagamihara DynaBoars gesluit. Hy is tans op die Springbok-bystandlys vir die jaareind-toer en sal waarskynlik eers ná die toer vertrek, maar betyds vir die begin van die Japannese Liga Een-seisoen volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-910-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-967-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….