Nuus 16:00
BULLETIN 4 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verbied Operation Dudula om buitelanders te teiken
# Die maandelikse verkope van nuwe voertuie in Suid-Afrika is op die hoogste vlak in tien jaar
# En tennis: Die ATP-jaareindtoernooi sal beslis wie sluit die jaar af as die wêreld-nommer-een
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die organisasie Operation Dudula verbied om ID’s van privaat persone te eis by gesondheidsinrigtings. Sy lede word verbied om buitelanders te intimideer, te teister of aan te rand, haatspraak te uiter, in te meng met toegang tot gesondheidsorg, skole of sake-ondernemings, of hulle onwettig te verwyder van blyplekke of stalletjies. Die hof het beslis slegs immigrasie-amptenare en polisielede mag identiteitsbevestiging vereis. Die bevel verhoed lede ook om ander aan te por tot sulke optrede op sosiale media of tydens openbare byeenkomste.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê die matriekeksamen vorder glad sonder enige groot ontwrigtings. Die departement het die matrieks geprys vir hul dissipline en hulle gevra om te hou by die Nasionale Senior Sertifikaat-belofte van eerlikheid en integriteit. Woordvoerder Steve Mabona het leerders weereens gewaarsku om nie selfone of afskryfnotas na eksamensentrums te neem nie, en kommer uitgespreek oor afwesigheid onder deeltydse kandidate:
# Naamsa het aangekondig Suid-Afrika se nuwe voertuigmark het verlede maand sy opwaartse neiging voortgesit, ondersteun deur dalende inflasie, ‘n stewiger rand, voortgesette tekens van verbeterende verbruiker-sentiment en vraagherstel in belangrike uitvoermarkte. Algehele binnelandse nuwe voertuigverkope het verlede maand tot meer as 55-duisend-900 eenhede gestyg, die hoogste maandsyfer sedert Maart 2015. Dit het gestyg met sewe-duisend-774 eenhede, of 16-persent, vergeleke met die 48-duisend-222 eenhede in Oktober verlede jaar. Die syfer vir die jaar tot dusver is nou 15,7-persent hoër as dieselfde tydperk in 2024.
# Tennis: Die ATP-jaareindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin, sal beslis wie die jaar as nommer een op die wêreldranglys afsluit. Die plaaslike held Jannik Sinner het die boonste posisie by Carlos Alcaraz teruggeneem toe hy die Paryse Meesters gewen het, maar die Spanjaard sal volgende week weer oorneem wanneer Sinner se punte vir die oorwinning in verlede jaar se jaareindtoernooi van die ranglys verwyder word. Selfs al wen Sinner die toernooi, sal Alcaraz steeds die jaar boaan die ranglys afsluit as hy net die halfronde haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-908-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-984-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Microsoft se jongste digitale verdedigingsverslag toon kunsmatige intelligensie versnel kuber-aanvalle ingrypend, wat die voorbereidingstyd tot 58 dae en die opsporingstyd tot slegs 12 dae verminder. Microsoft se hoofveiligheids-raadgewer vir Afrika, Kerissa Varma, sê KI stel kuberkrakers in staat om aanvalle vinniger as ooit tevore uit te voer, te ontleed en in geld te omskep. Sy waarsku KI-gedrewe uitvissing-suksessyfers het vervierdubbel. Varma vra organisasies om KI-gedrewe verdediging te ontplooi, multifaktor-bevestiging moontlik te maak en deurlopende monitering te handhaaf ten einde ontwikkelende bedreigings te bestry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….