Nuus 14:00
BULLETIN 4 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Senior aanklaer waarsku oor dreigemente teen Getuies A en B in die Armand Swart-moordsaak
# ‘n Hoogleraar sê geen land kon nog universele gesondheidsdekking regkry nie
# En rugby: Rassie kondig die Bokspan vir die kragmeting met Frankryk eers Donderdag aan
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het bevestig ‘n senior staatsaanklaer het gewaarsku oor dreigemente teen getuies in die moord op ‘n ingenieur van Vereeniging, Armand Swart. Hy is 23 keer geskiet toe hy vermoedelik vir iemand anders aangesien is. Khumalo het aan die Madlanga-kommissie gesê die aanklaer het dringende beskerming vir Getuies A en B aangevra. Hy verwys na die gevaar van georganiseerde misdadigers wat die verhoor wou laat ontspoor en bewyse teen hulle vernietig:
# Die Internasionale Kommissie vir Handelsadministrasie het die binnelandse afslag op ysterhoudende skroot van 30- tot 25-persent verminder. Hoofkommissaris Ayabonga Cawe sê die beskeie veranderinge aan Suid-Afrika se skrootmetaalprysstelsel volg na 13 maande van hersiening en wil mededingende belange in die sektor balanseer. Cawe sê die uitvoerbelasting van 20-persent bly steeds van krag. Rolspelers in die bedryf, waaronder herwinners en staalprodusente, bly egter verdeeld, met kritici wat waarsku die beleid belemmer steeds regverdige mededinging en streekverskaffers.
# Professor Alistair McGuire van die London School of Economics and Political Science sê geen land kon nog daarin slaag om universele gesondheidsdekking te laat slaag nie, deels omdat gesondheid aanhoudend verander. Hy was deel van die Departement van Gesondheid se paneelbespreking oor die bespoediging van universele gesondheidsdekking in Suid-Afrika. McGuire sê egter universele gesondheidsdekking is belangrik om ongelykhede in samelewings te verminder:
Nuus uit die buiteland:
# Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië bring op 18 November ‘n amptelike werksbesoek aan die Amerikaanse president, Donald Trump, in die Withuis. Dit vind plaas te midde van Trump se poging om sy land te oortuig om by die lys nasies aan te sluit wat reeds Abraham-ooreenkomste onderteken het. Die ooreenkomste is in 2020 met die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Soedan en Marokko gesluit om betrekkinge met Israel te normaliseer. Trump het aan CBS gesê hy glo die Saoedi’s sal uiteindelik ook die ooreenkoms onderteken.
# Rugby: Rassie Erasmus hou die Franse afrigter, Fabian Galthie, aan die raai en gaan eers Donderdag die Springbok-span aankondig vir Saterdag se kragmeting. Hy kondig gewoonlik die groep op die Dinsdag voor ‘n wedstryd aan. Die botsing op die Stade de France in Parys sal die eerste tussen die twee lande wees sedert Suid-Afrika die gashere in die kwarteindronde van 2023 se Wêreldbekertoernooi geklop het. Die uitslag is baie belangrik voor die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië vroeg volgende maand gedoen word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-781-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-992-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….