Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas-Mans en Pakistan pak mekaar vandag in die eerste eendagwedstryd in Faisalabad. Matthew Breetzke voer die span aan in die afwesigheid van Aiden Markram, wat ‘n ruskans kry voor die toer na Indië. Pakistan het die T20-reeks Saterdag 2-1 beklink in die laaste wedstryd in Lahore. Die toetsreeks wat die toer begin het, het een elk gelykop geëindig. Die Proteas se hoofafrigter, Shukri Conrad, sê hy is teleurgesteld oor die T20-nederlaag, maar is tevrede met die vertoning van sommige van die spelers.
# Sokker: Suid-Afrika het die Onder-17 FIFA-Wêreldbekertoernooi vir mans op ‘n hoë noot afgeskop met ʼn sege van 3-1 oor Bolivië in Doha, Katar. Emile Witbooi, Neo Bohloko en die plaasvervanger Shaun Els se doele het die Amajimbos se heel eerste oorwinning in slegs hul tweede verskyning in ʼn Wêreldbekertoernooi sedert 2015 beklink. Afrigter Vela Khumalo se span het ook geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse nasionale span te word wat hul openingswedstryd op ʼn Wêreldbekertoernooi wen. Amajimbos pak Donderdag die gasheer, Katar.
# Rugby: Nieu-Seeland sal sonder sy kaptein, Scott Barrett, en sy broer Jordie moet klaarkom in Saterdag se toets teen Skotland op Murrayfield in Edinburgh. Scott het verlede naweek ‘n sny aan sy been opgedoen in die derde minuut van hulle oorwinning van 26-13 oor Ierland in Chicago, wat steke moes kry. Jordie het ‘n enkelbesering opgedoen in die wedstryd. Fabian Holland en Josh Lord sal waarskynlik op slot begin, met Sam Darry en Samipeni Finau die ander moontlikhede.
Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, wil intussen geen verdere verskonings van sy span hoor vir die res van hul herfsveldtog nie nadat hulle Saterdag 26-13 teen die All Blacks verloor het in Chicago in Amerika. Die Iere het hul voorsprong van 13-7 na 60 minute verbeur om die derde agtereenvolgende wedstryd teen Nieu-Seeland te verloor. Hulle speel komende naweek in Dublin teen Japan. Farrell glo Ierland kan terugslaan in die oorblywende tuiswedstryde teen Eddie Jones se span, die Wallabies en die Springbokke.
# En ten slotte, tennis: Die ATP-jaareindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin, sal beslis wie die jaar as nommer een op die wêreldranglys afsluit. Die plaaslike held Jannik Sinner het die boonste posisie by Carlos Alcaraz teruggeneem toe hy die Paryse Meesters gewen het, maar die Spanjaard sal volgende week weer oorneem wanneer Sinner se punte vir die oorwinning in verlede jaar se jaareindtoernooi van die ranglys verwyder word. Selfs al wen Sinner die toernooi, sal Alcaraz steeds die jaar boaan die ranglys afsluit as hy net die halfronde haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….