Nuus 11:00
BULLETIN 4 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bevestig ‘n sluipmoordpoging op die omstrede sakeman Brown Mogotsi
# Die plofstofkenner Jimmy Roodt is in hegtenis geneem by die plek van die G20-leiersberaad
# En rugby: Die Barrett-broers is uit die All Black-span vir Saterdag se kragmeting met Skotland
# Die Madlanga-kommissie het berigte bevestig van ‘n vermeende sluipmoordpoging op die omstrede sakeman Brown Mogotsi gisteraand in Vosloorus aan die Gautengse Oos-Rand. Volgens berigte het onbekende gewapende mans op sy voertuig losgebrand, maar dis nie in hierdie stadium bekend of hy in die voertuig was nie. Mogotsi se naam duik gereeld op in ondersoeke na beweerde verrotting in die Polisiediens. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het aan die SABC gesê hulle is bekommerd oor Mogotsi se veiligheid:
# President Cyril Ramaphosa het kommissarisse vir die Verkiesingskommissie aangestel wat vir ʼn termyn van sewe jaar sal dien. Dit volg op aanbevelings van die Nasionale Vergadering. Die kommissarisse is Joyce Pitso, regter Dhaya Pillay en Mosotho Moepya. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president wens die kommissarisse voorspoed toe om die integriteit van uiteenlopende verkiesings in die land te beskerm:
# Die bedryfsdirekteur en plofstofdeskundige van Gauntlet Security Solutions, Jimmy Roodt, is by die Nasrec-uitstalsentrum in Soweto in hegtenis geneem vir betreding. Die G20-leiersberaad word later die maand daar gehou. Roodt het onlangs gesê die land se belangrikste internasionale lughawens kan gevaarlik onvoorbereid wees vir ‘n bomdreigement. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, sê Roodt se teenwoordigheid by Nasrec was ‘n poging om sy leuen te bewys dat Suid-Afrika se veiligheidstelsel nie gereed is om die beraad te beveilig nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Internasionale Organisasie vir Migrasie is bekommerd oor berigte van die oortreding van internasionale humanitêre wette en menseregteskendings in Soedan, en veral in die stad El-Fasher. Meer as 150-duisend mense is dood en meer as 14-miljoen ontwortel sedert die oorlog tussen die Soedanse Weermag en die paramilitêre groep, Rapid Support Forces, in April 2023 uitgebreek het. Die organisasie waarsku aanvalle op burgerlikes en burgerlike infrastruktuur, geslagsgeweld en etnies-gemotiveerde aanvalle teen ontheemde bevolkings neem skerp toe.
# Rugby: Nieu-Seeland sal sonder sy kaptein, Scott Barrett, en sy broer Jordie moet klaarkom in Saterdag se toets teen Skotland op Murrayfield in Edinburgh. Scott het verlede naweek ‘n sny aan sy been opgedoen in die derde minuut van hulle oorwinning van 26-13 oor Ierland in Chicago, wat steke moes kry. Jordie het ‘n enkelbesering opgedoen in die wedstryd. Fabian Holland en Josh Lord sal waarskynlik op slot begin, met Sam Darry en Samipeni Finau die ander moontlikhede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-424-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….