Nuus 17:00
BULLETIN 3 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering van Nasionale Eenheid-leiers bevestig hul verbintenis tot die nasionale prioriteite
# Die GOOD-party sê gemeenskappe soos Reigerpark verdien veiligheid, geregtigheid en betekenisvolle hervorming
# En, die Hooggeregshof beveel Johannesburg om informele handelaars se registrasie te versnel
# Tien partyleiers van die regering van nasionale eenheid het ‘n tweedaagse wegbreeksessie by die Wieg van die Mensdom in Gauteng voltooi. President Cyril Ramaphosa en ander partyleiers het besin oor die vordering onder die regering van nasionale eenheid se verklaring van voorneme, wat nasionale uitdagings soos werkloosheid, misdaad en armoede aanspreek. Hulle het ooreengekom om gereeld strategies te ontmoet, en dringend op te tree ten opsigte van regeringsprogramme, voedselsekerheid, jeuggeleenthede en misdaad. Die forum het ook Suid-Afrika se G20-rol beklemtoon en sy verbintenis herbevestig tot eenheid en dienslewering aan alle burgers.
# Die GOOD-party sê geweldsmisdaad en die roekelose gebruik van vuurwapens is ‘n ondraaglike werklikheid vir baie gemeenskappe. Dit volg ná die dodelike verbyry-skietery in Reigerpark in Boksburg aan die Gautengse Oos-Rand waartydens ses mense dood en drie gewond is. Matthew Cook van GOOD het die polisie versoek om vinnig op te tree en alle beskikbare hulpbronne te gebruik om die verantwoordelikes aan die pen te laat ry:
# Forum for South Africa het kommer uitgespreek oor die toenemende vlaag geweldsmisdaad en bendeverwante moorde in die land. Ses mense is Saterdagaand dood in ‘n verbyry-skietery in Reigerpark aan die Gautengse Oos-rand. Ses mense is ook die naweek dood in bendeverwante voorvalle op die Kaapse Vlakte in Kaapstad. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê ‘n nasionale strategie is dringend nodig om bendebedrywighede en georganiseerde misdaad te bestry:
# Die Hooggeregshof het beslis dat die Stad Johannesburg die bevestiging en registrasie van informele handelaars moet versnel. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Maatskaplik-Ekonomiese Regte het die saak aanhangig gemaak nadat handelaars uit onwettige of ongedefinieerde gebiede verwyder is, en betoog dat hul regte om ‘n bestaan te maak, geskend is. Regter Brad Wanless het die stad gelas om môre met die proses te begin wat teen die 18de van hierdie maand voltooi moet wees, terwyl bestaande verordeninge afgedwing word.
# Padwedlope: Die tweemalige Olimpiese marathonkampioen Eliud Kipchoge sê hy gaan oor die volgende twee jaar sewe marathons op sewe vastelande hardloop. Hy wil daarmee help om fondse in te samel vir die Eliud Kipchoge-stigting, wat opvoedkundige en omgewingsake wêreldwyd ondersteun. Die Keniaanse legende noem hierdie uitdaging die Kipchoge-wêreldtoer. Hy was gister 17de in die New Yorkse marathon. Kipchoge sê hy het niks meer om te bewys nie, behalwe om mense te inspireer om terug te gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-627-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-16-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….