Nuus 16:00
BULLETIN 3 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dumisani Mbotho sê die Valke se hoof het hom gewaarsku oor berigte van vals beamptes in Sandton
# Rusland verskerp sy aanvalle op Oekraïne se infrastruktuur
# En agt Kaapstadse strande ontvang die gesogte blouvlagstatus vir 2025/26
# Die Valke se afdelingskommissaris, Dumisani Mbotho, sê hy was by die eenheid se toekenningseremonie in Pretoria toe die sakeman Katiso “KT” Molefe in Desember verlede jaar in hegtenis geneem is. Hy is vandag die derde getuie voor die Madlanga-kommissie. Mbotho is voorheen in omstredenheid gedompel oor onvanpaste WhatsApp-plasings en ‘n ontmoeting met die vermeende misdaadbaas, Nafiz Modack. Mbotho sê die destydse hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het hom gevra of hy bewus is van ‘n operasie in Sandton:
# Die Departement van Gesondheid bied vanaand ‘n openbare paneelbespreking by die Universiteit van Pretoria aan om universele mediese dekking en gesondheidsekerheid in Suid-Afrika te bespoedig. Dit vind plaas in samewerking met die London School of Economics and Political Science en die Clinton-projek oor gesondheidsdekking. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê universele gesondheidsdekking en gesondheidsekerheid is vandag twee van die dringendste prioriteite in wêreldgesondheid:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens twee mense is dood in ‘n hommeltuigaanval in Oekraïne se suidwestelike Odessa-streek terwyl Rusland voortgaan met aanvalle op Oekraïne se infrastruktuur. Die Staatsnooddiens sê twee mense is dood in ‘n Russiese hommeltuigaanval op ‘n parkeerterrein langs Oekraïne se Swartseekus. Odessa se streekhoof, Oleh Kiper, sê drie mense is gewond. Tienduisende huise is ook sonder krag nadat Rusland die Zaporizhzhia-streek op die frontlinie met hommeltuie en missiele aangeval het.
# Tennis: Die Kanadees Felix Auger-Aliassime het sy kanse verbeter om die tweede keer die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië, te haal. Hy is agste in die Wedloop na Turyn na sy nederlaag teen die Italianer, Jannik Sinner, in die eindstryd van die Paryse Meesters. Auger-Aliassime is 160 punte voor die Italianer Lorenzo Musetti, wat negende is en hierdie week aan die Helleense Kampioenskap in Athene deelneem. Musetti moet die titel wen om Auger-Aliassime verby te steek en die eindtoernooi te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-978-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-nege-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte, agt Kaapstadse strande het blouvlagstatus vir die 2025/26-seisoen verwerf, waarvolgens uitnemendheid in veiligheid, watergehalte en omgewingsbestuur erken word. Die strande, wat tydens die Blouvlag-toekennings in Port Alfred in die Oos-Kaap aangekondig is, is Bikini-strand, Kampsbaai, Clifton se Vierde Strand, Vishoek, Llandudno, Melkbosstrand, Muizenberg en Silwerstroomstrand. Die program word gekoördineer deur die Natuurlewe- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika. Dit is amptelik van krag van die eerste van volgende maand tot die einde van Februarie om wêreldklas-, veilige en volhoubare kuservarings te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….