Nuus 14:00
BULLETIN 3 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie sê die polisie-brigadier Mokoena moet weer verskyn
# ‘n Man staan tereg op tien aanklagte van poging tot moord na ‘n aanval op ‘n trein in Brittanje
# En krieket: Sachin Tendulkar sê die Wêreldbeker-oorwinning is ‘n bepalende oomblik vir die vrouespel in Indië
# Die Madlanga-kommissie het beklemtoon dat die hoof van die Valke se eenheid vir Taktiese Operasies, brigadier Lesiba Mokoena, moet terugkeer om te getuig na teenstrydige verklarings oor deelname aan ‘n polisie-WhatsApp-groep. Getuienisleier Lee Segeels-Ncube sê Mokoena vra tans ‘n regsmening. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, sê Mokoena moet terugkeer na die getuiebank om teenstrydige weergawes rondom die inhegtenisneming van die omstrede sakeman Katiso Molefe uit te klaar:
# Die DA vra ‘n volledige ondersoek na die staatsbeheerde wapenverkrygingsagentskap, Krygkor, se hantering van ‘n tender vir personeelvoertuie van 500-miljoen rand. Die tender is vir 462 pantservoertuie vir die Nasionale Weermag se teeninsypelings-grenspatrollies. Chris Hattingh van die DA sê dit het aan die lig gekom dat die evalueringsproses in die gedrang gekom het toe veldtoetse om voertuigprestasie na te gaan, sonder rede gekanselleer is:
# ActionSA het amptelik benoemings vir sy burgemeesterskandidaat in Johannesburg geopen na Vrydag se Senaatsbesluit. Dit volg op groeiende kommer oor staatsbestuur en dienslewering sedert die einde van Herman Mashaba se ampstermyn. Mashaba het reageer op oproepe vir sy terugkeer en gesê hy sal besin terwyl hy ander sterk mededingers toelaat om na vore te kom. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê benoemings sluit op 30 November en die party beloof ‘n geloofwaardige alternatief om die Goudstad te lei:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Twee-en-dertigjarige man van Peterborough, Anthony Williams, is aangekla van poging tot moord op tien mense na die naweek se mesaanval op ‘n trein in Cambridgeshire, Engeland. Die minister van Vervoer, Heidi Alexander, sê ‘n treinwerker wat gehelp het om die aanval te stop, is in ‘n bedenklike maar bestendige toestand. Verskeie passasiers het na die eetwa gestorm waar personeel die luike toegemaak het om hulle te beskerm. Williams is op die Huntington-stasie in hegtenis geneem en sal vandag in die hof verskyn.
# Krieket: Die Indiese legende Sachin Tendulkar het die land se vroue se Wêreldbeker-oorwinning gelyk gestel aan wat die mans in 1983 reggekry het. Die gasvroue het Suid-Afrika in die eindstryd in Mumbai met 52 lopies geklop om hul eerste wêreldtitel in te palm. Tendulkar sê talle jong meisies in Indië is nou geïnspireer om ‘n kolf en bal op te tel met die geloof om ook eendag ‘n Wêreldbeker te wen. Hy beskryf die oorwinning as ‘n bepalende oomblik in die ontwikkeling van vrouekrieket in die land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-426-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….