Nuus 13:00
BULLETIN 3 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NUM eis ‘n verhoging van 15-persent vir Eskom se werknemers
# Die DA eis ‘n ondersoek na Krygkor se tender vir personeelvoertuie van 500-miljoen-rand
# En Donald Trump glo Venezuela se president Nicolás Maduro se dae is getel
# Die Nasionale Mynwerkersvakbond sê hy is steeds daartoe verbind om aansienlike en regverdigbare verhogings vir alle lede te verseker, te midde van die verlammende hoë lewenskoste. Die vakbond eis ‘n verhoging van 15-persent vir Eskom-werknemers. NUM se woordvoerder, Livhuwani Mammburu, sê Eskom en die regering moet begryp dat die ontbondeling van die kragvoorsiener nie gebruik mag word om werkerseenheid en gesamentlike bedingingsregte te skaad nie:
# Suid-Afrika se grootste privaatskoolgroep, Curro Holdings, wag op goedkeuring van die Mededingingskommissie en die Johannesburgse Aandelebeurs om te denoteer. Dit volg nadat aandeelhouers ‘n uitkoopaanbod van 7,2-miljard-rand van die miljardêr-filantroop Jannie Mouton se stigting aanvaar het. Die transaksie sal na verwagting teen einde vanjaar voltooi wees, waarna Curro ‘n organisasie sonder winsbejag sal word. Die groep is in 1998 gestig en het minstens 180 kampusse met meer as 70-duisend leerders. Die stigting wil langtermyn- maatskaplike uitwerking bo korttermynwinste stel, wat moontlik beurse vir duisende minderbevoorregte kinders kan ontsluit.
# Die DA vra ‘n volledige ondersoek na die staatsbeheerde wapenverkrygingsagentskap, Krygkor, se hantering van ‘n tender vir personeelvoertuie van 500-miljoen rand. Die tender is vir 462 pantservoertuie vir die Nasionale Weermag se teeninsurgensie-grenspatrollies. Chris Hattingh van die DA sê dit het aan die lig gekom dat die evalueringsproses in die gedrang gekom het toe veldtoetse om voertuigprestasie na te gaan, sonder rede gekanselleer is:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê sy ampsgenoot van Venezuela, Nicolás Maduro, se dae is getel. Minstens 64 mense is sedert September dood in Amerikaanse aanvalle in die Karibiese See en oostelike Stille Oseaan. Maduro, wat in Amerika van dwelm-oortredings aangekla word, beskuldig Washington dat hy dwelmhandel gebruik as dekmantel vir ‘n regime-verandering om Venezuela se olie te bekom. Trump verwerp bewerings dat Amerika se optrede nie oor dwelmhandel gaan nie, maar om Maduro uit die kussings te lig:
# Rugby: Engeland het Frankryk in die vierde plek op die wêreldranglys vervang ná Saterdag se oorwinning van 25-7 oor die Wallabies op Twickenham. Frankryk het nie die naweek gespeel nie. Die Springbokke is steeds eerste op die ranglys, gevolg deur die All Blacks, wat die derde-geplaasde Ierland 26-13 geklop het in Chicago in Amerika. Argentinië is sesde, Australië sewende, Skotland agtste, Fidji negende en Italië tiende. Hierdie maand se toetsuitslae is veral belangrik omdat die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië vroeg volgende maand plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-twee-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….