Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika se kaptein, Laura Wolvaardt, is baie trots op die span se vertoning in die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Haar onverskrokke 101 was egter verniet en die Protea-vroue het met 52 lopies teen Indië verloor in die eindstryd in Mumbai. Die gasvroue het met hul derde poging geseëvier nadat hulle in 2005 en 2017 naaswenners was. Wolvaardt sê dis nie lekker om aan die verloorkant te wees nie, maar sy is vol vertroue die ervaring sal die span sterker maak:
# Rugby: Die Springbok-stut Ox Nché is ná ‘n besering uit die res van die jaareindtoer na Europa terwyl Asenathi Ntlabakanye hom vervang. Nché het Saterdag sy been seergemaak tydens Suid-Afrika se skitterende sege van 61-7 oor Japan op die Wembley-stadion in Londen. Ntlabakanye het in Julie die eerste keer vir die Bokke uitgedraf in hul toets teen Italië. Bok-afrigter Rassie Erasmus sê Ntlabakanye was op die toer se bystandlys, en is bekend met die span se strukture en stelsels:
Engeland het Frankryk intussen in die vierde plek op die wêreldranglys vervang ná Saterdag se oorwinning van 25-7 oor die Wallabies op Twickenham. Frankryk het nie die naweek gespeel nie. Die Springbokke is steeds eerste op die ranglys, gevolg deur die All Blacks, wat die derde-geplaasde Ierland 26-13 geklop het in Chicago in Amerika. Argentinië is sesde, Australië sewende, Skotland agtste, Fidji negende en Italië tiende. Hierdie maand se toetsuitslae is veral belangrik omdat die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië vroeg volgende maand plaasvind.
# Gholf: JC Ritchie het die eerste Suid-Afrikaner geword om boaan die seisoen se Pad na Mallorca–ranglys te kom en sy DP World-toerkaart vir 2026 te kry. Hy het outomaties gekwalifiseer na drie oorwinnings vanjaar. Sy landgenoot Daniel van Tonder het ook sy kaart verseker toe hy gister in Majorka tiende geëindig het in die HotelPlanner-jaareindtoernooi. Altesaam 20 spelers spog met ʼn DP World-toerkaart. Ritchie sê hy het ʼn ongelooflike seisoen beleef:
# En tennis: Die Italianer Jannik Sinner het sy eerste Paryse Meesters-titel gewen en die nommer-een-posisie by sy teenstander, Carlos Alcaraz van Spanje, teruggeneem. Die 24-jarige Sinner het die Kanadees Felix Auger-Aliassime verslaan en spog nou met 26 agtereenvolgende oorwinnings op binnenshuise hardebane. Sinner, wat ook in die wedloop is om die jaar as die wêreld-nommer-een af te sluit in die ATP-jaareindtoernooi in Turyn in sy vaderland, sê dit was ʼn wonderlike jaar, wat ookal in Turyn gebeur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….