Nuus 11:00
BULLETIN 3 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê Operasie Vulindlela is deels suksesvol, maar die momentum neem af
# George Clooney sê dit was ’n fout om Biden met Harris te vervang in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing
# En krieket: Die regering wens die Protea-vroue geluk met hul vertoning in die Wêreldbeker-eindstryd teen Indië
# Business Leadership South Africa sê Operasie Vulindlela het tasbare sukses behaal in die hervorming van elektrisiteit en visums, maar die instelling van ander noodsaaklike hervormings verloop stadiger. Operasie Vulindlela is ‘n gesamentlike projek van die Presidensie en die Nasionale Tesourie om strukturele hervormings te versnel en ekonomiese herstel te ondersteun. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê die totstandkoming van die ekonomiese reguleerder vir vervoer en ontbondeling van Transnet se Nasionale Hawe-owerheid het tot stilstand gekom. Sy sê die belangrikste toets vir suksesvolle hervorming is ekonomiese groei.
# Die mynwerkersvakbond NUM het kommer uitgespreek oor die toenemende afleggingskrisis en inkrimping van belangrike nywerheidsektore. Talle maatskappye in die metaalsektor lê werkers af weens sterk mededinging, veral uit China. NUM se woordvoerder, Livhuwani Mammburu, sê die regering moet dringend ingryp om tot 688 werksgeleenthede by die Beeshoek-ysterertsmyn in die Noord-Kaap te red. Hy sê pro-aktiewe maatreëls is nodig om ʼn maatskaplik-ekonomiese ramp te voorkom:
# Die DA in die Wes-Kaap het alle pogings verwerp om ras of identiteit vir politieke gewin uit te buit. Dit volg nadat twee voormalige DA-raadslede, Marchell Kleynhans en Brendon Adams, wat die party verlede week verlaat het om by die Patriotic Alliance aan te sluit, die DA daarvan beskuldig het dat hy bruinmense en Khois in die George-munisipaliteit opsy skuif. Die DA-leier in die Wes-Kaap, Tertuis Simmers, sê die party het nie ‘n koukus vir gekleurdes of enige vorm van rasseverdeling in sy strukture nie. Hy sê hul fokus bly op goeie regering.
Nuus uit die buiteland:
# Die akteur en groot skenker aan die Demokratiese Party, George Clooney, sê dit was ʼn fout om oudpresident Joe Biden met die gewese visepresident, Kamala Harris, te vervang as die party se benoeming vir 2024 se Amerikaanse presidentsverkiesing. Afgevaardigdes van die party het virtueel gestem om Harris te benoem nadat Biden in Julie onttrek het. Clooney het aan CBS gesê hy het geen berou oor sy artikel in die New York Times waarin hy aandring dat Biden as presidentskandidaat onttrek nie:
# Krieket: Die regering het die Protea-vroue gelukgewens met hul uitsonderlike vertoning in gister se Wêreldbeker-eindstryd teen Indië. Dit was die mede-gasvroue se eerste titel nadat hulle Suid-Afrika met 52 lopies geklop het in Mumbai. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, sê die Proteas kan trots wees op hul vertoning, want hulle het vasberadenheid, vaardigheid en veggees getoon:
# En ten slotte, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-259-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-20-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….