Nuus 13:00
BULLETIN 2 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa moedig die Protea Vrouekrieketspan aan voor die geskiedkundige Wêreldbeker-eindstryd vandag
# Nege mense het lewensbedreigende beserings na mesaanvalle op ‘n trein tussen Doncaster en Londen
# En in Rugby: Die Bokke is vandag ses jaar lank die wêreldkampioen
# Ons begin met ‘n geleentheid wat moontlik een van die grootstes in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport kan wees. President Cyril Ramaphosa het die Protea Vrouekrieketspan sukses toegewens met hul wedstryd vandag in die eindstryd van die Vrouekrieketwêreldbeker in Navi Mumbai, Indië. Wie ookal wen sal ‘n nuwe kampioen wees, en Ramaphosa noem dit ‘n geskiedkundige oomblik. Hy het die spelers aangemoedig om op die veld te gaan, die reuse te oorwin en die beker huis toe te bring. Hy het die vroue verseker 62-miljoen Suid-Afrikaners ondersteun hulle met trots:
# Die African Transformation Movement het sy innige meegevoel betuig met die families van die ses mense wat dood en drie wat beseer is in die verbyry-skietvoorval Saterdag in Reiger Park. Een van die beseerdes is ‘n een-jarige wie se pa een van die oorledenes is. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, het die voorval ernstig veroordeel en sê dit ondermyn openbare veiligheid en menswaardigheid. Hy het die SAPD se vinnige optrede geloof en die gemeenskap aangemoedig om die polisie te help met die voortgesette soektog na die oortreders:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, sê hy sal eers voor die Madlanga-kommissie getuig nadat die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, se getuienis afgehandel is. Adams het in Kaapstad verduidelik dat baie van sy getuienis verband hou met Khumalo se beweerde optrede. Hy het bygevoeg dat hy en ander getuies, soos die SAPD-verklikker Patricia Mashale, gedokumenteerde bewyse sal lewer om te toon wie werklik die Suid-Afrikaanse Polisiediens bestuur:
# Die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, sê toegang tot grond bly ‘n groot uitdaging om mynbougeleenthede in die Oos-Kaap te ontsluit. Premier Oscar Mabuyane het by die derde jaarlikse Mynbou-befondsingsgeleentheid in Oos-Londen gesê die provinsie is ryk aan minerale soos titaan, kalk en steenkool, en beoog om mynbou te gebruik om werkskepping te bevorder en migrasie te verminder. Nyhontso het ‘n beroep gedoen op konsultasie met gemeenskappe en groter deelname deur die privaatsektor:
# Tien mense, van wie nege lewensbedreigende beserings het, is in Engeland in die hospitaal na ‘n mesaanval Saterdag op die Doncaster-Londen King’s Cross-trein. Twee mense is in hegtenis geneem nadat die trein ongeskeduleerd by Huntingdon-stasie gestop het en ‘n aantal polisiebeamptes ingestorm het om te help. Die Britse Vervoerpolisie sê teen-terrorismebeamptes ondersteun die ondersoek. ‘n Ooggetuie het aan die BBC gesê hulle het ‘n man met ‘n bebloede arm deur ‘n wa sien vlug en ‘n ander het gesê die polisie het ‘n man met ‘n Taser op die platvorm geskiet. Die eerste minister Keir Starmer het die voorval as erg kommerwekkend beskryf.
# En ter afsluiting in hierdie bulletin kyk ons na nog ‘n geskiedkundige sportoomblik, die keer rugby: Die Springbokke is vandag presies ses jaar lank die wêreldkampioen. Suid-Afrika het Engeland op hierdie dag in 2019, 32-12 verpletter in die Wêreldbeker-eindstryd in Tokio, Japan, om die Webb Ellis-trofee die derde keer te verower. Dit is opgevolg met ‘n oorwinning met ‘n enkele punt oor die aartsvyand, die All Blacks, in 2023 se eindstryd in Parys nadat die Bokke die gasheer, Frankryk, en Engeland in die vroeëre uitklopwedstryde geklop het. Die Bokke sal hul titel minstens tot 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië behou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….