Nuus 09:00
BULLETIN 1 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê bewerings van wit volksmoord in Suid-Afrika is ongegrond
# Die DA vra die regering om aanvalle op maatskaplike werkers as misdade teen die staat te beskou
# En gholf: Haotong Li van China gaan deelneem aan die Nedbank Gholf-uitdaagtoernooi
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê bewerings van ‘n sogenaamde wit volksmoord in Suid-Afrika is ongegrond en polities-gemotiveerd. Dit volg op berigte dat die Trump-administrasie beplan om wit Afrikaners voorkeur te gee vir vlugtelingstatus in Amerika. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit stel die land se misdaadprobleem verkeerd voor en ondermyn maatskaplike samehorigheid. Phiri sê die regering is daartoe verbind om alle burgers te beskerm:
# Die DA sê maatskaplike werkers in die Wes-Kaap moet herklassifiseer word as noodsaaklike werkers. Hy sê meer as twee-duisend maatskaplike werkers hanteer elk honderde gevalle van mishandeling en verwaarlosing, met meer as 54 aanvalle op maatskaplike werkers wat sedert April aangemeld is. Wendy Kaizer-Philander van die DA sê formele erkenning sal maatskaplike werkers toegang gee tot wetlike beskerming, gevaarbetaling, veiligheidstoerusting en insluiting in noodbeplanning soos ander eerstelinie-werkers:
# Die National Coloured Congress se leier, Fadiel Adams, beskuldig KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, van ‘n gebrek aan etiek. Adams het in Kaapstad ontken dat die klag wat hy teen die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, ingedien het, uit wraak was vir Mkhwanazi se bewerings van politieke inmenging by die SAPD. Adams sê Mkhwanazi se perskonferensie was ʼn poging om korrupte bondgenote in misdaadintelligensie te beskerm. Hy dreig om ʼn saak teen Mkhwanazi aanhangig te maak oor buitegeregtelike moorde op kinders in KZN:
# ‘n Australiese gesin met miljoene aanlyn aanhangers verhuis na Brittanje om hul tuisland se sosialemedia-verbod vir kinders onder 16, wat in Desember begin, te vermy. Die vier gesinslede bekend as die “Empire Family”, bestaan uit ma’s Beck en Bec Lea, ‘n 17-jarige seun Prezley en hul 14-jarige dogter Charlotte, wat almal video’s van hul daaglikse lewens plaas. Australië se verbod, wat as ‘n wêreld-eerste beskou word, beteken dat Facebook, Instagram, Snapchat, TikTok, X en YouTube “redelike stappe” moet doen om te verhoed dat kinders onder 16 jaar rekeninge oopmaak met bestaandes wat gedeaktiveer moet word.
# Gholf: Haotong Li van China is die jongste speler wat sy deelname bevestig het aan die Nedbank Gholf-uitdaging by Sun City van 4 tot 7 Desember. Dit sal sy sesde verskyning wees terwyl hy daarna streef om die eerste Asiatiese wenner in die geskiedenis van die toernooi te word. Die 30-jarige Li se beste vertoning was vierde en vyfde in 2017 en 2018. Ander spelers wat gaan deelneem, sluit in Viktor Hovland, Will Zalatoris, Garrick Higgo en Thomas Detry, asook ‘n aantal sterre van die DP World-toer.
# En sokker: Liverpool se afrigter, Arne Slot, sê sy span moenie ‘n gewoonte maak om wedstryde te verloor wat hulle behoort te wen nie. Die Premierliga-kampioen verkeer in ‘n krisis na ses nederlae in sy laaste sewe wedstryde. Hulle speel vandag op Anfield teen Aston Villa nadat Crystal Palace hulle ook dié week uit die Ligabeker geskakel het. Slot is gekritiseer oor sy besluit om ‘n onervare span te kies wat toe 3-0 verloor het, maar hy het weereens die noodsaaklikheid verdedig om sy sleutelspelers ruskans te gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….