Nuus 18:00
BULLETIN 31 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Sihle Zikalala stel die eerste fase van die kleinhaweprogram bekend
# Die gematigde Rob Jetten wen Nederland se verkiesing
# En krieket: Australië klop Indië in die tweede T20 op die MCG
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, het fase een van Suid-Afrika se eerste kleinhaweprogram sedert demokrasie bekend gestel. Die program, wat in Port Shepstone in KwaZulu-Natal begin, is daarop gemik om toegang tot die kus te bevorder, werksgeleenthede te skep en ekonomiese ontwikkeling in verwaarloosde dorpe te bevorder. Zikalala sê fase een sal na verwagting meer as vier-miljard-rand in handelsomset en byna ses-duisend werksgeleenthede skep:
Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê intussen die houerterminaal in Kaapstad is ‘n noodsaaklike deel van die uitvoer van produkte na wêreldmarkte. Creecy het ‘n toesigbesoek gebring om Transnet se gereedheid vir die sagtevrugte-uitvoerseisoen te beoordeel. Sy beklemtoon dat die hawe ‘n sleutelspilpunt vir die Wes-Kaap is wat noodsaaklike ekonomiese groei en werkskepping bevorder. Creecy voeg by meer as vier-miljard-rand is landwyd in die opgradering van hawetoerusting belê:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het ‘n strafregtelike klagte teen die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola ingedien, waarin hy beweer daar is nepotisme in die polisie. Adams sê verskeie van Masemola se familielede beklee posisies, sommige sonder behoorlike getuigskrifte. Adams sê die saak is na die Anti-Korrupsie-eenheid in Pretoria verwys vir ondersoek en bepleit deursigtigheid. Hy dring aan die bewyse sluit name, datums en tydsraamwerke in en daag Masemola uit om die bewerings in die openbaar te ontken:
Nuus uit die buiteland:
# Rob Jetten se gematigde liberale party het volgens stemontledings Woensdag se verkiesing in Nederland gewen. Jetten se D66 het tans ‘n noue voorsprong van 15-duisend stemme oor die anti-Islam-populis Geert Wilders, maar ontledings toon Wilders se Vryheidsparty kan hom nie meer kan verbysteek nie. Die plaaslike nuusagentskap ANP sê hoewel al die stemme nog nie getel is nie, kan Wilders nie meer wen nie. Die 28-jarige Jetten sê hy is baie trots op die geskiedkundige uitslag, maar het nou ‘n groot verantwoordelikheid om ‘n bestendige regering saam te stel.
# Krieket: Mitchell Marsh het ‘n flinke 46 lopies aangeteken nadat Josh Hazlewood drie paaltjies vir 13 lopies geneem het en Australië het Indië met vier paaltjies geklop in die tweede T20 op ‘n volgepakte MCG in Melbourne. Indië is vir net 125 uitgeboul in hulle voorlaaste boulbeurt. Abhishek Sharma het 68 aangeteken en Harshit Rana 35. Marsh het daarna sy 46 van slegs 26 aflewerings gemoker en Australië het gewen met 40 balle oor. Die eerste wedstryd in Canberra het uitgereën.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-778-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….