Nuus 17:00
BULLETIN 31 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Partyleier dien strafregtelike klagte in teen die nasionale polisie-kommissaris
# Die Johannesburgse metro word hof toe geneem oor die verwydering van informele handelaars
# En krieket: Die regering wens die Protea-vroue voorspoed toe vir hulle Wêreldbekereindstryd teen Indië
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het ‘n strafregtelike klagte teen die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, ingedien waarin hy beweer daar is nepotisme in die polisie. Adams sê verskeie van Masemola se familielede beklee posisies, sommige sonder behoorlike getuigskrifte. Adams sê die saak is na die Teenkorrupsie-eenheid in Pretoria verwys vir ondersoek en bepleit deursigtigheid. Hy dring aan die bewyse sluit name, datums en tydsraamwerke in en daag Masemola uit om die bewerings in die openbaar te ontken:
# Die Activists and Citizens Forum sê die regering bestee miljoene aan BBP-beskerming terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ballistiese afdeling sukkel met ‘n ernstige personeeltekort. Dit volg nadat die ballistiese hoof van die Polisie, Mishak Mkhabela, die Madlanga-kommissie meegedel het die afdeling het slegs 42 ontleders, wat vertragings in vuurwapenontledings en hofsake veroorsaak. Die woordvoerder van die forum, Dennis Bloem, doen ‘n beroep op politieke leiers en die regering van nasionale eenheid om openbare veiligheid bo hul eie belange te plaas.
# Die spanning loop hoog terwyl die Stad Johannesburg en die Socio-Economic Rights Institute mekaar in die plaaslike Hooggeregshof die stryd aansê oor die verwydering van informele handelaars uit die middestad. Betogers het voor die hof byeengekom om steun vir beide kante te toon. SERI sê die uitsettings skend handelaars se regte, terwyl die stad sê ongereguleerde handel benadeel die stad en openbare veiligheid. Burgemeester Dada Morero hoop die hof verstaan die stad se ingryping:
Nuus uit die buiteland:
# Die familie van wyle Virginia Giuffre wat koning Charles se broer, Andrew, van seksuele misbruik beskuldig het, verwelkom die besluit om hom van alle koninklike titels te stroop. Hy staan nou slegs bekend as Andrew Mountbatten-Windsor, en moet sy koninklike verblyfplek ontruim en na Sandringham verhuis. Buckingham-paleis het ernstige oordeelsfoute aangehaal wat verband hou met die seksoortreder Jeffrey Epstein. Giuffre se broer, Sky Roberts, het aan BBC Newsnight gesê hierdie stap is wel geskiedkundig, maar hy eis ‘n volledige ondersoek:
# Krieket: Die Regerings-kommunikasie- en inligtingstelsel het die Protea-vroue voorspoed toegewens gedurende hulle voorbereiding vir Sondag se Wêreldbeker-eindstryd teen die mede-gasvrou, Indië. Die geskiedkundige wedstryd, waar ‘n nuwe kampioen gekroon sal word, sal op die Dr DY Patil-stadion in Mumbai gespeel word. Woordvoerder William Baloyi moedig alle Suid-Afrikaners aan om hul ondersteuning te toon deur groen en goud te dra en die spelers aan te moedig terwyl hulle daarna streef om die beker na Suid-Afrika te bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-29-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….