Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: ‘n Nuwe eendag-Wêreldkampioen word Sondag gekroon wanneer Suid-Afrika teen die mede-gasvrou, Indië, te staan kom in die eindstryd in Mumbai. Dit is die Proteas se eerste verskyning in die eindstryd. Indië het voorheen in die eindstyd gespeel toe hulle in 2005 teen Australië verloor het en in 2017 teen Engeland. Suid-Afrika het die eindstryd gehaal deur Engeland in die halfeindronde met 125 lopies te klop, terwyl Indië gister die verdedigende kampioen, Australië met vyf paaltjies verslaan het.
Suid-Afrika se manspan pak Pakistan intussen vandag in die tweede T20 in Lahore nadat hulle die eerste ontmoeting in Rawalpindi met 55 lopies gewen het. Geen veranderinge word verwag aan die besoekers se span nie. Donovan Ferreira is die kaptein terwyl Aiden Markram ruskans kry. Die ervare paaltjiewagter Quinton de Kock is terug nadat hy sy uittrede omgekeer het. Daar word verwag dat die gasheer nuwe boulers sal inbring nadat hulle Dinsdag sleg verloor het. Die laaste T20 vind môre ook in Lahore plaas.
# Rugby: Japan se afrigter, Eddie Jones, sê sy span is gereed om alles te gee wanneer hulle môre teen die viermalige wêreldkampioen, die Springbokke, in Londen te staan kom. Die Brave Blossoms se volgende toets gaan nog moeiliker wees as die een wat hulle verlede week naelskraap teen Australië verloor het. Jones sê Japan moet die krag van die Springbokke se voorry en balvernuf beveg. Die voormalige afrigter van Engeland en die Wallabies glo akkuraatheid en vinnige spel sal deurslaggewend wees, en beloof Japan sal sy beste gee.
# Sokker: Desiree Ellis gaan Banyana Banyana nog vier jaar afrig nadat sy haar kontrak tot 2029 verleng het. Sy het na die Olimpiese Spele van 2016 oorgeneem by haar voorganger, Vera Pauw. Safa se president, Danny Jordaan, sê Ellis kan Suid-Afrika nou begin voorberei vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir vroue nadat hulle vroeër die week gekwalifiseer het. Hy sê hulle moet Banyana ook herbou en kyk na alternatiewe en jonger spelers vir die toekoms.
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, is die eerste keer deur na die Paryse Meesters se kwarteindronde. Die Italianer het Francisco Cerundolo van Argentinië geklop en is steeds op koers om weer nommer een te word. Sinner kom volgende teen Ben Shelton te staan nadat die Amerikaner met die Rus Andrey Rublev afgereken het. Die verdedigende kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, het die Spanjaard Alejandro Davidovich Fokina geklop. Daniil Medvedev van Rusland het die Italianer Lorenzo Sonego verslaan om steeds in aanmerking te kom vir die ATP-jaareindtoernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….