Nuus 12:00
BULLETIN 31 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die Parlement se toesigproses kan nie in gevaar verkeer omdat sleutelgetuies weier om te verskyn nie
# Omgewingsgoedkeuring is toegestaan vir die uitbreiding van die Kaapse Wynland-lughawe
# En die Trump-administrasie word gekritiseer oor die drastiese beperking op vlugtelinge en voorkeur aan wit Suid-Afrikaners
# ActionSA sê die integriteit van die Parlement se toesigproses kan nie in gedrang kom weens belangrike getuies se weiering om te verskyn nie, veral nie diegene met uitvoerende gesag oor instellings wat ondersoek word nie. Die party steun die staande komitee oor Openbare Rekeninge se besluit om die verskyning van die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, te verseker in sy voortgesette ondersoek. Matthew George van ActionSA sê dis noodsaaklik om uit te vind hoekom openbare fondse misbruik is:
# Die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het die Kaapse Wynland-lughaweprojek in Kaapstad omgewingsgoedkeuring gegee. Die projek van agt-miljard-rand bestaan uit die uitbreiding van die lughawe buite Durbanville wat in ‘n aantal ontwikkelingsfases gedoen sal word. Die lughawe se besturende direkteur, Deon Cloete, sê die ontwikkeling sluit infrastruktuur in soos rolbane en parkeerplekke vir vliegtuie:
# Solidariteit, in samewerking met die boormaatskappy Booysens Bore, het 65 werkers van die maatskappy van afdanking gered. Dit volg na die sluiting van Assmang Beeshoek se ysterertsmyn naby Postmasburg in die Noord-Kaap. Die myn is gedwing om te sluit weens die voortgesette ekonomiese krisis wat die myn en die breër ekonomie raak. Pieter Jordaan van Solidariteit sê Booysens Bore het die 65 werknemers na sy takke in die naburige Kathu en Kuruman oorgeplaas:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika se administrasie word gekritiseer oor sy besluit om die getal vlugtelinge na die land tot sewe-duisend-500 per jaar te beperk. Dié syfer was verlede jaar 125-duisend onder oudpresident Joe Biden. Trump sê wit Afrikaners uit Suid-Afrika en ander slagoffers van onwettige en onregverdige diskriminasie sal voorkeur kry. Die Internasionale Vlugtelinghulp-projek sê die administrasie verpolitiseer ‘n humanitêre program deur voorkeur te gee aan Afrikaners terwyl duisende vlugtelinge wat alreeds goedgekeur is, verban word.
# Sokker: Desiree Ellis gaan Banyana Banyana nog vier jaar afrig nadat sy haar kontrak tot 2029 verleng het. Sy het na die Olimpiese Spele van 2016 oorgeneem by haar voorganger, Vera Pauw. Safa se president, Danny Jordaan, sê Ellis kan Suid-Afrika nou begin voorberei vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir vroue nadat hulle vroeër die week gekwalifiseer het. Hy sê hulle moet Banyana ook herbou en kyk na alternatiewe en jonger spelers vir die toekoms.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-555-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….