Nuus 07:00
BULLETIN 31 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se G20-presidentskap het gehandel oor die belyning van die globale samewerkingsagenda
# Die DA se parlementêre debat oor ‘n nuwe wetsontwerp teen swart ekonomiese bemagtiging vind vandag plaas
# En krieket: Indië het die verdedigende kampioene Australië geklop om die Vrouewêreldbeker-eindstryd te haal
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap gaan nie net oor globale sigbaarheid of aansien nie, maar om die agenda van wêreldwye samewerking in lyn te bring met gemeenskappe se prioriteite. Die G20-beraad vind in November in Johannesburg plaas. Morolong sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het verskeie fokusareas, onder meer die hervorming van die digitale ekonomie. Hy sê die presidentskap is ‘n geleentheid om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer tot die globale diskoers.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die bemagtiging van kleinskaalse en voorheen benadeelde boere is die sleutel tot die transformasie van die landbousektor. Mashatile het in antwoord op vrae in die Nasionale Vergadering gesê die regering se voortgesette grondhervorming en die vrystelling van staatsgrond toon sy verbintenis om opkomende swart boere te help om aan kommersiële landbou deel te neem en die land se boerdery-ekonomie te versterk:
# Die DA gaan vandag ‘n wetsontwerp in die Parlement voorlê wat daarop gemik is om Swart Ekonomiese Bemagtiging te vervang met ‘n nuwe model vir ekonomiese insluiting. Die party sê die huidige SEB-beleid het die elite wat ANC-bande het verryk, terwyl miljoene Suid-Afrikaners steeds in armoede leef. Die debat onder die titel Ekonomiese Insluiting vir Almal, sluit DA-parlementslede Mark Burke, Luyolo Mphithi en Mlondi Mdluli in, wat die party se plan sal uiteensit om openbare verkryging regverdiger en meer inklusief te maak.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê daar sal in die 2025/2026- en 2026/2027-boekjaar geen vermindering van onderwysposte in enige openbare skool in die provinsie wees nie. Volgens Solidariteit Onderwysersnetwerk maak volgende jaar se subsidie-besnoeiing van 66-persent by kwintiel 5-skole dit toenemend moeilik om onderwysers te behou, klasgroottes te beheer en noodsaaklike ondersteuningstrukture te onderhou. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle sal bestendigheid in die skoolstelsel beskerm:
# Die Verenigde Nasies sê die oorlog in Soedan kom neer op versuim om internasionale reg te beskerm. Soedannese rebelle het regeringsmagte uit El Fasher verdryf wat die laaste vesting van die land se regime in die westelike Darfoer-streek was. Na raming is meer as 150-duisend mense weens die konflik dood. Die VN-noodlenigingshoof, Tom Fletcher, vra die Veiligheidsraad om die wandade te stop, veilige humanitêre toegang te verseker en die vloei van wapens te keer:
# Krieket: Die mede-gasvrouland, Indië, het in Navi Mumbai met ʼn rekord-getal lopies ʼn vyfpaaltjie-sege oor die verdedigende kampioene, Australië, behaal en die Vroue-wêreldbeker se eindstryd bereik. Die 22-jarige Phoebe Litchfield spog met 119 lopies en het die jongste speler geword wat ʼn honderdtal by ʼn Wêreldbeker behaal. Australië was op 338 almal uit waarna die speler van die wedstryd, Jemimah Rodrigues, ʼn onoorwonne 127 van 134 balle gemoker het om Australië se 15 oorwinnings in die Eendagwedstryd-wêreldbeker kort te knip. Indië kom Sondag in die eindstryd teen Suid-Afrika te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-29-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….