Nuus 15:00
BULLETIN 30 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Getuie sê Matlala beweer hy het gereelde kontantbetalings van tot ‘n miljoen-rand aan generaal Sibiya gedoen
# RISE Mzansi belê ‘n parlementêre debat oor dobbelkrisis van 1,5-duisend-miljard-rand
# En die Vaaldam is weer vol
# Getuie C sê die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala beweer hy het die adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, tot ‘n miljoen-rand in kontant betaal ná elke polisie-tenderbetaling. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê volgens Matlala het Sibiya slegs kontant aanvaar, wat hy persoonlik by sy huis of ‘n ander eiendom in Sandton, Johannesburg, afgelewer het. Getuie C sê Matlala het geglo die betalings verseker sy beskerming en het hom gehelp om winsgewende polisiekontrakte te bekom, insluitend ‘n gesondheidsdiens-tender van 360-miljoen-rand:
# Die DA het ‘n aansoek ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die Polisiediens en waarnemende minister Firoz Cachalia te dwing om die lank-uitstaande misdaadstatistiek vir die kwartaal tussen Januarie en Maart vry te stel. Die DA se woordvoerder oor Polisie, Lisa Schickerling, sê ondanks herhaalde versoeke en beloftes is die inligting steeds nie beskikbaar nie. Sy waarsku die verdoeseling van misdaadsyfers ondermyn deursigtigheid, verantwoordbaarheid en openbare vertroue in wetstoepassing:
# RISE Mzansi sal môre die dobbelkrisis van 1,5-duisend-miljard-rand in Suid-Afrika tydens ‘n mini-debat in die Nasionale Vergadering in die kollig plaas. Die Nasionale Dobbelraad se jongste verslag toon die bruto dobbelinkomste het van 59-miljard-rand in 2023/24 gestyg tot 75-miljard-rand in 2024/25, wat dui op ‘n dringende behoefte aan ingryping. RISE Mzansi se parlementslid, Makashule Gana, sê die veldtog poog om die maatskaplike en openbare gesondheidsuitwerking van dobbel te bespreek, aangesien dit lewens en voortbestaan vernietig:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die Vaaldam is weer vol. Dit het Dinsdag ‘n vlak van 100,88-persent bereik. Gedurende dieselfde tydperk verlede jaar was die dam net 34,77-persent vol. Volgens die departement het die goeie reënval in Gauteng en die Vrystaat gesorg dat die dam ‘n bestendige vlak handhaaf. Owerhede sal egter voortgaan om die stelsel te monitor om balans in die opvanggebiede te handhaaf.
# Gholf: Ses putjies van St Andrews se ‘Ou Baan’ word verleng vir 2027 se Ope, hoofsaaklik deur die afslaanbowwe te verskuif. Dit sal die algehele baanlengte tot ses-duisend-807-meter verleng. Ander veranderinge sluit in die verskuiwing van sandkuile op die tweede putjie en die byvoeging van sandkuile op drie ander putjies. Neil Coulson van die bestuursmaatskappy St Andrews Links Trust sê die werk sal eienskappe van die baan herstel wat oor die jare geleidelik verander het, en ander verder verfyn om die baan se unieke karakter te behou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-917-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-969-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….