Goeie Nuus
BULLETIN 30 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Student aan die Durbanse Universiteit vir Tegnologie, Lindani Sibisi, se kortprent Amanzi het die toekenning vir beste redigering gewen op die Kanadese Mobiele Internasionale Rolprentfees. Amanzi, wat “water” in Zoeloe beteken, vertel die verhaal van ‘n vrou wat geteister word deur voorvadergeeste wat eis dat sy haar roeping as ‘n tradisionele geneser aanvaar. Die kortfliek is in drie kategorieë benoem: beste mobiele prent, beste kamerawerk en beste redigering. Sibisi sê die toekenning is ‘n bevestiging dat stories uit Suid-Afrika op die globale verhoog kan staan.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê die bekendstelling van die Maersk Belcon-koelpakhuis in Kaapstad is ‘n groot pluspunt wat die provinsie se mededingendheid wat vrag, logistiek en uitvoer betref. Die nuwe pakhuis is opgerig te midde van toenemende verliese weens vertragings en verbreking van die koueketting in Suid-Afrika se sektor vir bederfbare uitvoerprodukte. Sileku sê die pakhuis sal na verwagting baie meer werksgeleenthede skep, plaaslike ekonomiese bedrywighede bevorder en omkeertye verbeter vir uitvoerders wat deur die Kaapstadse hawe uitvoer:
# Die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuur-vrywilligers het hul vaardighede vertoon op vanjaar se jaarlikse Ramprisikobestuur Noodhulp- en Brandbestrydingkompetisie. Ses-en-twintig spanne het deelgeneem: 12 in die brandbestrydingsafdeling en 14 in die noodhulpafdeling. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Mitchells Plain se eenheid het die brandbestrydingskompetisie gewen en Ottery die noodhulpkompetisie:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die Hoftolk-togaprogram in die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum in Pretoria bekendgestel. Tolke sal nou in die hof amptelike togas dra, wat ‘n geskiedkundige mylpaal aandui. Kubayi het die projek as die eerste van sy soort wêreldwyd beskryf, wat die rol van tolke sal formaliseer met amptelike togas, ‘n swart-en-wit kleredragkode asook ‘n Etiese Kode. Die program is daarop gemik om tolke se kritieke rol te bevestig en om integriteit, professionaliteit en etiese gedrag in die Suid-Afrikaanse regstelsel te bevorder.
# En ten slotte: Die Teenstroping 200-klub maak sedert sy herbekendstelling in September vordering met die beskerming van Dinokeng in Gauteng se natuurlewe. ‘n Muur van Eer is bekendgestel om ondersteuners te vereer wat maandeliks bydra tot pogings om stroping te keer. Die eerste amptelike prystrekking sal op 6 Desember plaasvind met die opbrengs wat bestee sal word aan befondsing van patrollies, herstelwerk aan heinings en die opgradering van tegnologie om stroping in die reservaat te verhoed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….