Nuus 14:00
BULLETIN 30 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen regstappe om die vrystelling van misdaadstatistieke af te dwing
# Die Madlanga-kommissie hoor Matlala het minister Mchunu se hulp gevra na ‘n klopjag op sy huis
# En nog vyf verdagtes word vasgetrek vir die waaghalsige inbraak in die Louvre, maar geen juwele is nog teruggevind nie
# Die DA het ‘n aansoek ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die Polisiediens en waarnemende minister Firoz Cachalia te dwing om die lank-uitstaande misdaadstatistiek vir die kwartaal tussen Januarie en Maart vry te stel. Die DA se woordvoerder oor Polisie, Lisa Schickerling, sê ondanks herhaalde versoeke en beloftes is die inligting steeds nie beskikbaar nie. Sy waarsku die verdoeseling van misdaadsyfers ondermyn deursigtigheid, verantwoordbaarheid en openbare vertroue in wetstoepassing:
# Getuie C sê die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om hulp gevra na ‘n polisieklopjag op sy huis in Pretoria in Desember verlede jaar, terwyl hulle na die ontvoerde sakeman Jerry Boshoga gesoek het. C het voor die Madlanga-kommissie getuig Matlala het Mchunu gevra om in te gryp deur die beamptes wat by die klopjag betrokke was, met behulp van opsporingstoestelle te identifiseer. Hy het bygevoeg Matlala het later gevoel hy word gebruik en is sonder beskerming, en het geglo sy steun vir Mchunu se ANC-presidentsveldtog is nie terugbetaal nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse polisie het nog vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die gewaagde rooftog in die Louvre-museum, insluitend die hoofverdagte wie se DNS op die toneel gevind is. Vier diewe het op 19 Oktober ‘n vragmotor met ‘n hysbak en snytoerusting gebruik om by ‘n galery op die eerste verdieping in te breek en met geskiedkundige juweliersware ter waarde van 1,7-miljard-rand gevlug. Twee ander verdagtes is gister aangekla van diefstal en misdadige sameswering. Geen van die buit is nog gevind nie.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, waarsku Safa om te verseker die groep junior spelers raak nie in die stelsel verlore nie. Hy het die beheerliggaam gevra vir gereelde kampe en vriendskaplike wedstryde en gesê dis nie genoeg om die jong spelers slegs na die junior Afrikabekertoernooi en die Wêreldbeker te neem nie. Broos sê Suid-Afrika moet met sy beskikbare jong talent werk. Hy sê hy beplan om junior nasionale spelers in die Bafana-stelsel te integreer om ‘n platform te bou vanwaar die land beter kan vaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-en-40-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-985-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
# En laastens, CapeNature sê hy gaan op 2 Februarie volgende jaar oorskakel na ‘n kontantlose betaalstelsel by vyf van sy bekendste natuurreservate. Dit is Robberg en Keurbooms by Plettenbergbaai, Stony Point by Bettysbaai, Voëleiland by Lambertsbaai en Walkerbaai by Hermanus. CapeNature se woordvoerder, Luke Folb, sê dis in ooreenstemming met sy verbintenis tot uitstekende diens, volhoubaarheid en veiligheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….