Nuus 13:00
BULLETIN 30 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie C beweer die tenderpreneur Matlala het 500-duisend-rand betaal vir minister Mchunu se ANC-presidentsveldtog
# Die parlementêre ad hoc-komitee vra verdere uitstel te midde van uitdagings met getuies
# En Duitsland verhoog die minimum-loon tot 291-rand per uur
# Getuie C het aan die Madlanga-kommissie vertel die tenderpreneur Vusimusi “Cat” Matlala beweer hy het ongeveer 500-duisend-rand betaal vir die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se veldtog vir die ANC-presidentskap. Hy sê Matlala het na bewering betalings deur die sakeman Brown Mogotsi gedoen om die vlugte en verblyf vir die ANC-vieringe op 8 Januarie te dek. C sê Matlala het geglo sy steun vir Mchunu sou hom teen polisie-ondersoeke beskerm, maar het verraai gevoel toe sy polisietender van 360-miljoen-rand gekanselleer is:
Die parlementêre ad hoc-komitee wat korrupsie in die strafregstelsel ondersoek, kan intussen moontlik sy sperdatum van 28 November misloop. Voorsitter Soviet Lekganyane sê meer as 250 voorleggings moet nog hersien word. Getuienisleier Norman Arendse sê sommige getuies sal skriftelike verklarings indien, terwyl ander, insluitend die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, steeds nie beskikbaar is nie as gevolg van die Madlanga-kommissie. Hy sê die geskorste inspekteur-generaal van Intelligensie, Imtiaz Fazel, gee nie sy samewerking nie en sal moontlik op 21 November ontbied moet word. Sittings word volgende week hervat.
# Eskom sê hulle het eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad weer aan die nasionale netwerk gekoppel. Die eenheid is vroeg vanjaar gesluit vir die tweede fase van hul langtermyn-bedryfsonderhoudsprogram, ‘n vereiste van hul 20-jaar lewensduurverlenging wat deur die Nasionale Kernreguleerder toegestaan is. Eenheid een en eenheid twee sal na verwagting meer as een-duisend-860-megawatt lewer. Eskom sê dis ‘n bewys van hul toewyding om die kragsentrale veilig, betroubaar en doeltreffend te bedryf.
Nuus uit die buiteland:
# Die Duitse regering het ‘n verhoging van die minimumloon tot 291-rand per uur goedgekeur, die grootste verhoging sedert die land ‘n dekade gelede minimumlone ingestel het. Die verhoging sal in twee fases plaasvind. Die minister van Arbeid, Baerbel Bas, sê ses-miljoen werknemers sal merkbaar meer ontvang en maatskappye kan die stygende koste oor twee jaar op ‘n verantwoordelike manier versprei. ‘n Onafhanklike kommissie wat bestaan uit ekonome, vakbondleiers en verteenwoordigers van sake- en werkgewersgroepe, het in Junie die twee-fase verhoging aanbeveel.
# Krieket: Die afrigter van Engeland se vrouespan, Charlotte Edwards, het erken dit gaan moeilik wees om die span reg te ruk. Dit volg nadat hulle uit die eendag-Wêreldbekertoernooi geskakel is. Engeland het vyf uit agt wedstryde gewen voor hulle gister in die halfeindronde in Guwahati, Indië, met 125 lopies teen Suid-Afrika verloor het. Edwards sê sy is nietemin trots op wat die span bereik het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-267-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-vier-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….