Nuus 08:00
BULLETIN 30 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering van nasionale eenheid se geskiloplossingsmeganisme aanvaar sy opdrag
# Die SABC is op soek na ‘n lewensvatbare befondsingsmodel
# En rugby: Arendse is opgewonde om terug te wees in die Bokspan
# Die Regering van Nasionale Eenheid se Geskiloplossingsmeganisme het sy opdrag aanvaar na ‘n vergadering onder voorsitterskap van adjunkpresident Paul Mashatile. President Cyril Ramaphosa het in 2024 die stigting van die meganisme aangekondig om beleidsgeskille onder die RNE se tien lede op te los. Die Presidensie sê die meganisme het ingestem dat voldoende konsensus slegs van toepassing is op besluitnemingsliggame, wat die RNE en die Forum vir Politieke Leiers insluit. Dit het ook saamgestem oor verwysingsprosedures en die uitsluiting van plaaslike regeringskwessies.
# Die SABC sê hy het ʼn lewensvatbare befondsingsmodel nodig om finansieel bestendig te bly. Die openbare uitsaaier het in die 2024/2025-boekjaar ʼn netto verlies van 253,3-miljoen-rand aangeteken wat 28-persent meer is as die vorige jaar se 197,8-miljoen-rand. Die huidige befondsingsmodel maak hoofsaaklik staat op TV-lisensies en advertensies. Die SABC-voorsitter, Khathutshelo Ramukumba, het aan die parlementêre staande komitee oor Bewilligings gesê slegs 14-persent Suid-Afrikaners betaal hul TV-lisensies:
# Gauteng-polisie se Teen-bende-eenheid het ʼn 20-jarige verdagte gearresteer in verband met die dodelike bendeskietery in Westbury vroeër die maand. Vier tieners het ʼn groep van sewe seuns tussen 13 en 19 jaar genader en op hulle losgebrand. Twee is dood en vyf beseer voor die tieners van die toneel weggestap het. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê die verdagte is in Diepkloof, Soweto, vasgetrek:
# Die dodetal styg steeds waar Orkaan Melissa ‘n pad van vernietiging in die Karibiese eilande gelaat het. Orkaan Melissa, nou ‘n Kategorie 1 storm, spoed deur die Bahamas met gepaardgaande swaar reën en verwoestende winde. Die owerheid in Jamaika het vier lyke gevind en ten minste 23 mense, tien van hulle kinders, is in Haïti dood en een persoon is in die Dominikaanse Republiek dood. Die eerste minister van Jamaika, Andrew Holness, sê die verwoesting is katastrofies:
# Rugby: Die vleuel Kurt-Lee Arendse is opgewonde om Saterdag weer vir die Springbokke te speel teen Japan in Londen. Dit sal slegs sy vyfde toets van die seisoen wees nadat beserings hom uit die ander ses gehou het. Arendse se laaste toets was in Augustus teen Australië. Hy speel saam met Ethan Hooker terwyl sy gereelde vleuel-maat, Cheslin Kolbe, heelagter speel. Die enigste erkende nommer 15 in die groep, Damian Willemse, sukkel met ‘n besering en sal eers vir volgende naweek se wedstryd teen Frankryk oorweeg word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-771-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-929-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….