Nuus 06:00
BULLETIN 30 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika klop Engeland om sy eerste eendag-eindstryd in die Vroue-wêreldbeker te haal
# Die Inkomstediens versoek ‘n bykomende 7,6-miljard-rand van die Tesourie
# En ‘n Valke-beampte erken die Molefe-arrestasie kon in ‘n skietery ontaard
# Ons begin vanoggend met sportnuus:
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt het ‘n meesterklas in kolfwerk aangebied toe Suid-Afrika Engeland met 125 lopies in Guwahati geklop het om hul eerste eendag-eindstryd in die Vroue-wêreldbeker te haal. Wolvaardt het 169 lopies gemoker, die hoogste telling ooit van ‘n Suid-Afrikaner by ‘n Wêreldbeker, sodat die Proteas ‘n indrukwekkende 319 vir sewe lopies kon aanteken. In antwoord het Marizanne Kapp vyf paaltjies geneem toe Engeland vir 194 uitgeboul is. Suid-Afrika sal teen Australië of Indië in Sondag se eindstryd te staan kom. Wolvaardt sê vennootskappe was die sleutel:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die Nasionale Tesourie vir 7,6-miljard-rand oor die volgende drie jaar gevra. Dit is buiten die bykomende 3,5-miljard-rand wat dit vir die huidige boekjaar ontvang het. Die diens se finansiële hoof, Schalk Human, het aan die Parlement se staande komitee oor Finansies gesê die 7,6-miljard-rand is om die tekort in sy basistoewysing te dek, alle uitstaande geld wat aan die diens verskuldig is volhoubaar in te vorder, en die diens te moderniseer. Die Inkomstediens is in gesprek met die Tesourie oor sy befondsingsmodel, aangesien dit ongeveer 30-persent onderbefonds is.
# Die Valke-kaptein, Barry Kruger, het voor die Madlanga-kommissie beken dat spanning tydens die arrestasie van sakeman Katiso “KT” Molefe in Sandhurst so hoog geloop het dat dit maklik in ‘n skietgeveg kon ontaard het. Kruger, wat in die Taktiese Operasionele Bestuursafdeling dien, is die derde getuie wat duidelikheid gegee oor die Desember-inhegtenisneming. Hy sê hy en ‘n kollega is gestuur om berigte oor vals Valke-beamptes te ondersoek, maar het slegs gewapende polisielede op die toneel gevind:
Kruger, sê hy het waarskuwings geïgnoreer dat die inhegtenisneming van Molefe wettig was, en ‘n polisiehelikopter ontplooi en ekstra beamptes aangevra ten spyte daarvan dat hy meegedeel is die operasie was wettig. Kruger het die kommissie meegedeel hy het nie die lasbrief vir inhegtenisneming nagegaan nie en was nie bewus wie bykomende Valke-beamptes na die toneel gestuur het nie. Hy hou vol hy het instruksies gevolg terwyl hy die operasie gekoördineer het:
# Die DA in Tshwane sal vandag tydens die Stad se gewone raadsvergadering ‘n mosie van wantroue teen die ANC-onderburgemeester Eugene Modise indien. Die DA-lid, Jacqui Uys, sê die mosie is om aaspreeklikheid te verseker na berigte dat Modise na bewering voordeel getrek het uit ‘n sekuriteitskontrak van etlike miljoene rand met die munisipaliteit. Sy beskuldig die burgemeester, Nasiphi Moya, dat sy Modise beskerm het en sê sy posisie as burgemeesterskomiteelid vir Finansies is skadelik vir die stad se finansiële integriteit:
# Inwoners van ‘n krotbuurt in Rio de Janeiro het meer as 40 liggame op ‘n plein in rye neerlê ná die bloedigste polisie-operasie in die stad se geskiedenis. Daar is nog geen amptelike bevestiging of dit die vermeende lede van ‘n dwelmbende insluit wat Dinsdag in ‘n reuse-operasie teen dwelms in twee krotbuurte in die noorde van Rio dood is nie. Vier polisiebeamptes is ook dood in die operasie, waarby twee-duisend-500 beamptes betrokke was. Rio se hoof-misdaadorganisasie, die Comando Vermelho, is geteiken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-411-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-950-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….