Nuus 15:00
BULLETIN 29 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie verwelkom G20-ministers van Kultuursake in Ballito voor die leiersberaad
# Vandag se verkiesing in Nederland word gesien as ‘n toets om die verregse-krag te bepaal
# En krieket: Anrich Nortjé keer terug na ‘n langtermyn-besering
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie is gasheer vir G20-ministers van Kultuursake in Ballito, KwaZulu-Natal, vir die vierde G20-kultuurwerkgroep. Die vergadering is een van die laaste geleenthede voor volgende maand se G20-leiersberaad en fokus op die bevordering van kultuur as ‘n dryfveer van volhoubare ontwikkeling. McKenzie het aan die SABC News gesê die besprekings sal die wêreldwye samewerking in kulturele bewaring, kreatiewe ekonomiese groei en vernuwing reg oor G20-lidlande versterk:
# Die DA sê die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, se onregmatige aankondiging van die drastiese vermindering van befondsing vir Kwintiel 5-skole in 2026, ná die sperdatum van 30 September, skep finansiële onsekerheid vir ouers en skole. Woordvoerder Sergio Dos Santos sê die DA veroordeel die vermindering van 879-rand tot 301-rand per leerder, met verwysing na moontlike skoolgeldverhogings en begrotings-ontwrigtings. Hy sê die DA oorweeg regstappe om die besluit om te keer:
#Die EFF is bekommerd oor die besluit van die Parlement om die portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake se verslag oor die vul van vakatures in die Verkiesingskommissie goed te keur. Die party sê die besluit verontagsaam die bevindinge en aanbevelings van die paneel onder voorsitterskap van hoofregter Mandisa Maya, wat ernstige kommer uitgespreek het oor die bevoegdheid, temperament en geskiktheid van Mosotho Moepya en regter Dhaya Pillay om in die OVK te dien. Die EFF sê hy verwerp die aanvaarding van die verslag en die aanstelling van omstrede individue in die kommissie.
Nuus uit die buiteland:
# Nederlanders stem vandag in ‘n blitsverkiesing wat beskou word as ‘n lakmoestoets vir die sterkte van die regsgesindes, wat baie groei getoon het in Europa. Meningspeilings dui aan die anti-immigrasie- en anti-Islam-rebel Geert Wilders is op koers om sy verkiesingsukses van twee jaar gelede met sy ver-regse Vryheidsparty te herhaal. Die helfte van die kiesers het egter nog nie besluit nie, dis te moeilik om ‘n voorspelling te waag en drie ander partye het onlangs die gaping oorbrug.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé sal na verwagting die naweek weer terug op die speelveld wees. Die 32-jarige het by die Durbanse span, die Dolphins, aangesluit vir Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaging. Hy het weens ‘n besering nog nie weer gespeel sedert die Indiese Premierliga in Mei nie en sy laaste wedstryd vir die Proteas was die eindstryd van die T20-Wêreldbeker in die Wes-Indiese Eilande in Junie verlede jaar. Nortjé sê dis wonderlik om weer te kan speel en hy is steeds gemotiveerd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-127-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-25-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….