Goeie Nuus
BULLETIN 29 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twee kultuur-ikone van Kaapstad, David Kramer en wyle Taliep Petersen, gaan die metro se hoogste burgerlike eerbewys, ereburgerskap, ontvang. Die twee word vereer vir hulle talle kreatiewe prestasies soos die teater-meesterstukke, District Six: The Musical en Kat and the Kings. Die toekenningsgeleentheid vind in Januarie plaas. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kramer en Peterson het daarin geslaag om vermaak te vermeng met maatskaplike kommentaar en aktivisme:
# Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse sangeres Tyla is gereed om op haar eerste toer as hoofkunstenaar te vertrek. Die ‘We Wanna Party’-toer sou verlede jaar plaasvind, maar is uitgestel. Die 23-jarige sangerers het haar opgewondenheid op sosiale media gedeel en sê sy het al op ander verhoë opgetree, maar nou kry sy haar eie. Die toer begin op 11 November in Tokio, Japan, gevolg deur optredes in Indonesië, die Filippyne, Singapoer, Indië en Saoedi-Arabië voor dit op 13 Desember in die Verenigde Arabiese Emirate eindig.
# Die Departement van Basiese Onderwys, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en Dove het kragte saamgesnoer met die #ChangeTheCompliment-veldtog. Dis deel van Dove se wêreldwye selfbeeldprojek en moedig ouers, opvoeders en gemeenskappe aan om komplimente gegrond op voorkoms te verskuif na die verering van meisies se moed, kreatiwiteit, intelligensie en prestasies. Meer as 80-persent van Suid-Afrikaanse meisies sê hulle voel skaam oor hul voorkoms. Adjunkminister Reginah Mhaule sê hoewel beduidende vordering gemaak is met die bereiking van geslagsgelykheid in toegang tot onderwys, moet meer gedoen word.
# Die Oyster Box Hotel het KwaZulu-Natal se eerste oord geword wat die gesogte 5-ster Premium-status van die Suid-Afrikaanse Toerisme-graderingsraad ontvang. Die hotel langs die kus by Umhlanga is nou een van 23 in die land met die status. Bronwen Auret van die graderingsraad sê die Oyster Box is meer as net ‘n hotel. Dis ʼn simbool van erfenis, luuksheid en uitstekende diens. Die hotel het oor die jare belangrike internasionale toekennings ontvang, onder meer Condé Nast se reisigerskeuse-prys.
# En ten slotte: ‘n Akademikus van die Durbanse Universiteit vir Tegnologie, Sasi Gangiah, het die hoogste eerbewys verower op die 17de Wêreldkonferensie oor Sakeondernemings en Sosiale Wetenskappe in Bali, Indonesië. Sy is as beste aanbieder aangewys vir haar aanbieding getiteld, “Mapping a Multi-Theoretical Framework Towards Social Consciousness in Hospitality Education“. Die navorsing het die hervormende rol van gasvryheidsonderrig in die kweek van maatskaplike verantwoordelikheid onder studente en bedryfspersoneel ondersoek. Gangiah sê die erkenning beklemtoon die belangrikheid van die integrasie van maatskaplike verantwoordelikheid in gasvryheidsonderrig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….