Nuus 14:00
BULLETIN 29 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor van die Valke se aggressiewe inmenging tydens Katiso “KT’ Molefe se inhegtenisneming
# Sassa sê bewerings van dubbele toelaagbetalings dié maand is vals
# En sokker: Messi hoop om volgende jaar op 39 aan die Wêreldbekertoernooi deel te neem
# ‘n Voormalige lid van die politieke moorde-taakspan, kaptein Maxwell Wanda, het aan die Madlanga-kommissie gesê lede van die Valke het ingemeng en aggressief opgetree tydens die inhegtenisneming van die sakeman Katiso “KT” Molefe in Desember verlede jaar. Molefe word daarvan beskuldig dat hy opdrag gegee het vir die moord op die ingenieur Armand Swart. Wanda sê die Valke het onverwags in groot getalle by Molefe se huis in Sandhurst, Johannesburg, opgedaag, wat verwarring en spanning veroorsaak het:
# Die Vryemarkstigting het die Konsepwetsontwerp op Sakeondernemingslisensiëring gekritiseer en dit as ongrondwetlik en skadelik vir Suid-Afrika se ekonomie beskryf. Die wetsontwerp het ten doel om die Sakewet van 1991 te wysig en ‘n moderne, doeltreffende lisensiëringsraamwerk in te stel wat onder andere ekonomiese groei bevorder en regulatoriese doeltreffendheid verbeter. Martin van Staden van die stigting sê die wetsontwerp gee te veel mag aan die minister van Kleinsake-ontwikkeling, skend provinsiale gesag en skend privaatheidsregte:
# Die Mededingingskommissie het sewe groot samesmeltings en verkrygings goedgekeur, insluitend transaksies in lugvaart, tegnologie, eiendom, nywerheid en finansies. Woordvoerder Siyabulela Makunga sê daar is op sekere transaksies voorwaardes toegepas om werkverskaffing, vaardigheidsontwikkeling en die verkryging van plastiekpype en toebehore te bevorder, terwyl ander sonder voorwaardes goedgekeur is. Hy sê die kommissie het besluit hierdie transaksies sal waarskynlik nie mededinging wesenlik verminder of voorkom nie, wat markbestendigheid verseker terwyl aandag geskenk word aan bekommernisse in openbare belang.
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sê hy is bekommerd oor toenemende waninligting oor die betaling van maatskaplike toelaes. Dit volg op ‘n boodskap op sosiale media wat beweer die agentskap gaan begunstigdes hierdie maand dubbel betaal. Sassa se woordvoerder, Andile Tshona, sê hierdie inligting is vals:
# Sokker: Argentinië se kaptein, Lionel Messi, hoop om in volgende jaar se Wêreldbeker te speel, hoewel hy besef dat sy ouderdom en fiksheid belangrike faktore sal wees. Hy word 39 net voor die begin van die toernooi in Noord-Amerika. Messi, wat sy land in 2022 na Wêreldbeker-glorie gelei het, het onlangs sy kontrak met Inter Miami tot 2028 verleng. Hy sê hy sal sy fisiese toestand versigtig beoordeel voor hy besluit om homself beskikbaar te stel. Hy beskryf dit as ‘n droom om hulle kroon te verdedig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-101-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-27-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….