Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vroue hoop dis ‘n geval van derde keer skeepsreg in vandag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland. Suid-Afrika het teen Engeland verloor in die voorlaaste rondes van die vorige twee eendag-Wêreldbekertoernooie. Boonop het Engeland die Proteas met ‘n volle tien paaltjies verslaan in hulle eerste wedstryd in vanjaar se toernooi. Die top-orde kolwer Suné Luus sê hulle sal nie toelaat dat die statistiek hulle vandag in Guwahati, Indië, beïnvloed nie. Sy sê hulle fokus slegs op die oorwinning deur goeie krieket te speel. Suid-Afrika kolf eerste.
Suid-Afrika se manspan het Pakistan intussen met 55 lopies verslaan in die eerste T20 in Rawalpindi. Reeza Hendricks het 60 van 40 balle bygedra en die Proteas het 194 vir nege in hul 20 boulbeurte aangeteken. Corbin Bosch het daarna die beste boul-vertoning van sy loopbaan gelewer. Hy het vier paaltjies platgetrek en is deur George Linde ondersteun wat drie laat kantel het. Pakistan is uitgeboul vir 139. Die ander twee T20s vind Vrydag en Saterdag in Lahore plaas.
# Sokker: Banyana Banyana het hulle plek in volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir Vroue bespreek toe hulle die Demokratiese Republiek die Kongo in Soweto 1-0 geklop het in die tweede kragmeting van hulle kwalifiseerder. Verlede week se eerste kragmeting in Kinshasa het gelykop geëindig met een-elk. Thembi Kgatlana se doel in die tweede helfte het die oorwinning beklink en die span hul 15de deelname aan WAFCON verseker. As Suid-Afrika die halfeindronde haal, is hul weg oop na 2027 se Wêreldbekertoernooi in Brasilië.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith verwag ‘n vinnige wedstryd op ‘n hibriede oppervlak wanneer hulle Saterdag teen Japan speel op die Wembley-sokkerstadion in Londen. Baie Bok-spelers het ondervinding van hibriede oppervlakke in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Engelse Premierliga en weet wat om te verwag. Smith sê hy en ander Bokke wat in Japan gebaseer is, het reeds ‘n week gelede in Londen aangekom en kon aanpas by plaaslike toestande. Hy beskryf Wembley as ‘n wonderlike stadion wat ‘n goeie wedstryd behoort op te lewer.
# En tennis: Cameron Norrie van Brittanje het Carlos Alcaraz verslaan om die laaste 16 van die Paryse Meesterstoernooi te haal. Dit was Norrie se eerste oorwinning oor die wêreld-nommer-een. Die Spanjaard het die eerste keer deelgeneem nadat hy verlede maand in Tokio sy agtste titel van die seisoen ingepalm het. Daar was ook seges vir die Amerikaner Taylor Fritz, Daniil Medvedev van Rusland en Felix Auger-Aliassime van Kanada. Alcaraz sê hy was teleurgesteld met sy spelpeil in die wedstryd:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….