Nuus 08:00
BULLETIN 29 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan op deursigtigheid oor SETA-aanstellings
# Die Nasionale Vergadering keur drie benoemings goed vir vakatures in die Verkiesingskommissie
# En Orkaan Melissa is op pad na Kuba nadat dit reuseskade in Jamaika aangerig het
# Die DA sê Suid-Afrikaners het die reg om te weet wie 20-miljard-rand van die belastingbetaler se geld bestuur. Die party eis dat die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, die volledige lys vrystel van aanstellings deur die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid wat verlede maand gemaak is, insluitend die name, agtergrond en sektore wat verteenwoordig is. Karabo Khakhau van die DA waarsku die geheimhouding van hierdie inligting ondergrawe openbare vertroue:
# Die Nasionale Vergadering het ‘n mosie goedgekeur om drie kandidate aan te beveel vir aanstelling as kommissarisse van die Suid-Afrikaanse Verkiesingskommissie. Die benoemdes is Joyce Pitso, regter Dhana Pillay en Mosotho Moepya. Die Parlement sê die aanstellingsproses is ontwerp om deursigtigheid en integriteit te verseker. Die name sal aan president Cyril Ramaphosa gestuur word. Ná hul aanstelling sal hulle poste vul wat op 4 November vakant word wanneer die huidige voorsitter en twee ander kommissarisse se termyn verstryk.
# Die GOOD-party sê Kaapstad kan nie beweer dis ʼn stad van wêreldgehalte terwyl gesinne op die Kaapse Vlakte onder geweerskote leef nie. Minstens 22 moorde is die naweek in Kaapse Vlakte-gemeenskappe aangemeld. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê gesinne op die Kaapse Vlakte verdien dieselfde veiligheid, waardigheid en beskerming wat toeriste en inwoners van ryker gebiede kry. Hy sê veiligheid kan nie net ʼn paar se voorreg wees nie:
# Orkaan Melissa is op pad na die ooste van Kuba nadat dit oor Jamaika beweeg het. Dis die ergste storm in moderne geskiedenis wat dié Karibiese nasie tref. Dit het afgeneem tot ʼn kategorie 3-storm, maar sal na verwagting steeds winde van tot 125 kilometer per uur bereik. Melissa het sewe sterftes veroorsaak: drie in Jamaika tydens voorbereiding vir die storm, drie in Haïti en een in die Dominikaanse Republiek. Jamaika se eerste minister, Andrew Holness, het aan CNN gesê die eiland is tot rampgebied verklaar:
# Sokker: Banyana Banyana het hulle plek in die 2026 Afrikanasiesbeker vir Vroue bespreek nadat hulle die Demokratiese Republiek die Kongo in Soweto met 1-0 geklop het in die tweede deel van die kwalifiseerder. Die twee nasies se kragmeting in die eerste deel verlede week in Kinshasa, het gelykop geëindig met een elk. Thembi Kgatlana se doel in die tweede helfte het die oorwinning beklink en die span hul 15de WAFCON verseker. As Suid-Afrika die WAFCON-halfeindronde haal, is hul weg oop na die 2027 Wêreldbeker vir Vroue in Brasilië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-520-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-965-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….