Nuus 08:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 13 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Defend Our Democracy sê minister Motsoaledi moet verduidelik hoekom die verkiesingshervormingspaneel nog nie aangestel is nie
# Die ACDP sê die spesiale ekonomiese sone-program skiet tekort van sy aanvanklike doel
# En, Kaapstad se burgemeester veroordeel die ontwrigting van ‘n pro-Israelse betoging
# Die Defend our Democracy-beweging doen ‘n beroep op die Minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, om te verduidelik hoekom hy nie die spertyd gehaal het vir die aanstelling van ‘n Verkiesingshervormings-konsultasiepaneel nie. Dit moes teen die 19de Oktober gedoen gewees het. ‘n Aktivis van Defend Our Democracy, Nicole Fritz, sê hulle glo Motsoaledi se versuim om die paneel binne die voorgeskrewe tydsraamwerk saam te stel, het ‘n regstreekse impak op sy doeltreffendheid:
Speel klankgreep:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het die wildsvleistrategie vir Suid-Afrika in die Staatskoerant vir toepassing afgekondig. Die strategie het ten doel om die wildsvleisektor te versterk as ‘n verskaffer van voedselsekerheid en as ekonomiese groeisektor wat kan help om werk te skep. Die departement sê die doeltreffende toepassing van die strategie sal bydra tot die bewaring en volhoubare gebruik van die land se bio-diversiteit, terwyl ekonomiese, maatskaplike, en omgewingsprobleme soos armoede, klimaatverandering en voedselsekerheid getakel word.
# Die ACDP neem kennis van die Spesiale Ekonomiese Sone-program as deel van die Reimagined-nywerheidstrategie wat bedoel is om plaaslike en buitelandse regstreekse beleggings te stimuleer. Maar dit is kommerwekkend dat dit tekort skiet met die erkenning dat die vervaardigingsbasis agteruitgaan. Wayne Thring van die ACDP doen ‘n beroep op die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, om met die relevante staatsdepartemente saam te werk om ‘n regerings-geleide beroepsopleidingstrategie te ontwikkel ten einde te verseker dat die verskaffing van sektorspesifieke vaardighede industrialisasie kan aanspoor.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het Palestynse ondersteuners veroordeel wat gister met die polisie slaags geraak het tydens ‘n teen-protesoptog teen Israelse ondersteuners in Seepunt. Beeldmateriaal van die chaos wat op sosiale media die ronde doen toon ‘n swaar polisieteenwoordigheid met skokgewere en waterkanonne om die skare uit een te jaag. Sewe mense is aangekeer en staar aanklagte van openbare geweld in die gesig. Hill-Lewis sê die protesoptrede in Kaapstad oor die Israel-Palestynse konflik was oorwegend vreedsaam met ‘n paar uitsonderings:
Speel klankgreep:
# Tennis: Novak Djokovic is vir ‘n rekord agtste keer bo-aan die jaareind wêreldranglys, na sy eerste-ronde oorwinning by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië. Die Serwiër het Holger Rune van Denemarke met 7-6, 6-7, -3 in die Groengroep verslaan vir sy 19de agtereenvolgende toervlakoorwinning. Jannik Sinner van Italië het ook sy openingswedstryd in die Groengroep gewen deur die Griek, Stefanos Tsitsipas, met 6-4, 6-4 te klop. Djokovic wat sy sewende ATP-titel wil inpalm, sê dit beteken baie vir hom om die jaar as die wêreld se nommer een af te sluit:
Speel klankgreep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-937-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-935-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….