Nuus 16:00
BULLETIN 28 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan op dringende hervorming in die polisie na ‘n ballistiese skandaal
# Die WVK-ondersoek veroordeel staatsdepartemente omdat hulle belangrike inligting weerhou
# En krieket: Die wêreld se beste eendagbouler gaan dalk die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Suid-Afrika misloop
# Die DA het ‘n dringende hersiening van die polisie se forensiese en ballistiese stelsels versoek na skokkende getuienis voor die Madlanga-kommissie. Bewyse het foutiewe verslae onthul wat die AK-47-geweer wat in die moord op die ingenieur Armand Swart gebruik is, verbind met minstens 20 ander moorde, insluitend DJ Sumbody, DJ Vintos en die sakeman Don Tindleni. Ian Cameron van die DA waarsku teen moontlike ingewortelde korrupsie en vra onafhanklike oudits, opgraderings van forensiese laboratoriums en leefstylondersoeke van senior polisie-offisiere:
Die adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, sê intussen die geskorste minister, Senzo Mchunu, het tyd benodig om vertroud te raak met die ministerie en sal sy volle ondersteuning ontvang, sowel as dié van ‘n regskenner en ervare adjunkte. Mathale het voor die Parlement se ad hoc-komitee ook bevestig Mchunu is ingelig rondom die regulatoriese strukture:
# Die regterlike kommissie van ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake het frustrasie uitgespreek oor die gebrek aan samewerking van belangrike staatsdepartemente omdat hulle nie inligting soos beëdigde verklarings en verslae verskaf nie. Die Polisie, die Departement van Justisie, die Presidensie en die Parlement het nie reageer op versoeke vir inligting van ou WVK-sake nie. Woordvoerder Lionel Adendorf bevestig ondanks hierdie uitdagings sal openbare verhore soos beplan op 10 November begin:
# Moody’s het vertroue in Johannesburg se finansies uitgespreek en verwys na gesonde bedrywighede, matige skuld en verstandige bestuur ondanks politieke onrus en verkwistende besteding. Ontleders sê die stad handhaaf positiewe marges en stewige finansiële toesig, maar waarsku teen stygende skuld as gevolg van infrastruktuuragterstande en bevolkingsaanwas. Die oorsig is teenstrydig met die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se kommer oor 24,4-miljard-rand se onreëlmatige uitgawes. Johannesburg behou ‘n bestendige kredietgradering van Ba3, wat ‘n matige tot hoë vlak van kredietrisiko aandui, net onder Kaapstad se Ba2 en die nasionale regering se gradering.
# Krieket: Daar is steeds onsekerheid oor die fiksheid van die wêreld se beste eendagbouler, Sophie Ecclestone van Engeland, vir môre se Wêreldbeker-halfeindstryd teen die Protea-vroue. Sy het haar skouer Sondag beseer tydens die laaste groepswedstryd teen Nieu-Seeland en kon nie haar boulskof voltooi nie. Die bestuur sê Ecclestone sal voor die wedstryd voortdurend ondersoek word. Sy en haar spanmaat Linsey Smith is die gesamentlik voorste paaltjienemers in die toernooi met 12 elk. Australië en die mede-gasvrou, Indië, speel Donderdag in die tweede halfeindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-172-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-925-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….