Nuus 15:00
BULLETIN 28 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WVK-ondersoek veroordeel staatsdepartemente omdat hulle belangrike inligting weerhou
# Die DA eis die onmiddellike versterking van polisiehulpbronne op die Kaapse Vlakte
# En tennis: Sinner word die sewende manspeler om 50-miljoen-dollar se ATP-prysgeld te verdien
# Die regterlike kommissie van ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake het frustrasie uitgespreek oor die gebrek aan samewerking van belangrike staatsdepartemente omdat hulle nie inligting soos beëdigde verklarings en verslae verskaf nie. Die Polisie, die Departement van Justisie, die Presidensie en die Parlement het nie reageer op versoeke vir inligting van ou WVK-sake nie. Woordvoerder Lionel Adendorf bevestig ondanks hierdie uitdagings sal openbare verhore soos beplan op 10 November begin:
# Die verhoor van die veroordeelde moordenaar Rassie Nkune, wat beskuldig word van die moord op en ontvoering van Hillary Gardee drie jaar gelede, het in die Hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, begin. Gardee was die dogter van die politikus Godrich Gardee. Die verrigtinge is verlede week vertraag nadat Nkune sy regsverteenwoordiger afgedank het. Regter Lindiwe Vuyeka het regverdigheid beklemtoon ondanks streng tydlyne in die verhoor, wat vir ses weke beplan word. Nkune, wat teregstaan op 12 aanklagte, dien reeds ‘n lewenslange vonnis uit vir twee ander moorde in 2022.
# Die DA in die Wes-Kaap eis dat die nasionale regering onmiddellik polisiehulpbronne in alle hoëmisdaadgebiede op die Kaapse Vlakte in Kaapstad versterk. Die party sê minstens 22 moorde is oor die naweek in gemeenskappe op die Kaapse Vlakte aangemeld. Die DA-lid, Benedicta van Minnen, sê speurders steier onder die groot hoeveelheid sake, stasies word lamgelê deur die hoë aantal vakatures, en bedryfsvermoë stort in duie, maar die nasionale polisiebestuur swyg steeds:
Nuus uit die buiteland:
# President Volodimir Zelensky sê Oekraïne sal nog twee tot drie jaar Europese finansiële steun benodig om teen Rusland te veg. Kiëf was grootliks afhanklik van militêre en finansiële steun van buitelandse bondgenote sedert Moskou se grootskaalse inval in Februarie 2022. Leiers van die Europese Unie het verlede week die Europese Kommissie opdrag gegee om voort te gaan met moontlikhede vir die befondsing van Oekraïne vir nog twee jaar, wat die deur ooplaat vir ‘n reuse-lening met behulp van miljarde euro se Russiese staatsbates wat die groepering bevries het.
# Tennis: Jannik Sinner se oorwinning oor die Duitser Alexander Zverev in Sondag se eindstryd van die Weense Ope in Oostenryk het sy ATP-prysgeld laat opskiet tot 50-miljoen-dollar – byna 863-miljoen-rand. Die Italianer het die sewende manspeler ooit geword om dit te bereik. Die ander is Novak Djokovic van Serwië, die Spanjaard Rafael Nadal en die Switser Roger Federer, wat al meer as 100-miljoen-dollar verdien het, die Brit Andy Murray, Zverev en die huidige wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje. Hierdie bedrae sluit nie borgskappe of deelname aan vertoonwedstryde in nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-575-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-919-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….