Nuus 14:00
BULLETIN 28 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hillary Gardee-moordverhoor begin
# ‘n Forensiese ontleder verbind dieselfde AK-47 aan die moorde op Swart, DJ Sumbody, DJ Vintos en Don Tindleni
# En rugby: Jake White is nou betrokke by skolerugby in die Oos-Kaap
# Die verhoor van die veroordeelde moordenaar Rassie Nkune, wat beskuldig word van die moord op en ontvoering van Hillary Gardee drie jaar gelede, het in die Hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, begin. Gardee was die dogter van die politikus Godrich Gardee. Die verrigtinge is verlede week vertraag nadat Nkune sy regsverteenwoordiger afgedank het. Regter Lindiwe Vuyeka het regverdigheid beklemtoon ondanks streng tydlyne in die verhoor, wat vir ses weke beplan word. Nkune, wat teregstaan op 12 aanklagte, dien reeds ‘n lewenslange vonnis uit vir twee ander moorde in 2022.
# Die polisie se senior forensiese ontleder, Solomon Modisane, het onthul dat dieselfde AK-47-geweer gebruik is in die moorde op die ingenieur Armand Swart, DJ Sumbody, DJ Vintos en die sakeman Don Tindleni. Modisane, wat vanaf ‘n ander bestemming voor die Madlanga-kommissie getuig, sê die patroondoppies op al vier misdaadtonele stem ooreen onder mikroskopiese ontleding. Hy beskryf dit as bisar dat die vuurwapen wat in die moord op Swart gebruik is, in Pretoria sowel as Amanzimtoti in KwaZulu-Natal ondersoek is:
# Die Forum for South Africa sê die voormalige minister van Menslike Nedersettings, Lindiwe Sisulu, moet rekenskap gee van hoe openbare fondse gebruik is vir die Mamelodi Hostel-woonstruktureprojek in Gauteng. Die projek van 64-miljoen-rand wat die regering tydens die Covid-19-pandemie vir inwoners van Mamelodi Hostel begin het, is steeds onvoltooid. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê twee bou-aannemers, Selby en Gorogang, is aangestel om die werk uit te voer, maar die projek is voor voltooiing gestaak. Hy sê berigte dui daarop dat Gorogang die terrein verlaat het sonder om werkers te betaal:
# Die vakbondfederasie Saftu het kommer uitgespreek oor die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se uitnodiging aan privaat vennote om in Suid-Afrika se passasier-spoorwegstelsel te belê. Die stap vorm deel van die regering se breër plan om die land se vervoernetwerk te moderniseer en privaat beleggings te lok om betroubaarheid en veiligheid te verbeter. Asive Dyani van Saftu sê dit is nog ‘n stap in die privatisering van openbare vervoer as deel van Operasie Vulindlela:
# Rugby: Die voormalige Springbok- en Bulle-afrigter, Jake White, sien uit na sy terugkeer na die suiwerste vorm van die spel nadat hy aangestel is as raadgewer by Selborne College in Oos-Londen in die Oos-Kaap. Hy het laas afgerig toe hy die Bulle in Julie verlaat het na ‘n spelersopstand. White se voormalige hulpafrigter, Phiwe Nomlomo, is tans breier van Selborne se eerste span en het hom genader om betrokke te raak. White het die Bokke afgerig van 2004 tot 2007, toe hulle die Wêreldbeker die tweede keer gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-473-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-903-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….