Nuus 12:00
BULLETIN 28 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement vra omvattende strategieë teen afknouery
# Minister Motsoaledi sê die teen-MIV-inspuiting Lenacapavir is grensverskuiwend
# En rugby: Die Bokke se hulpafrigter verwag ‘n taai toets in Europa
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het kommer uitgespreek oor die gebrek aan omvattende strategieë teen afknouery in skole. Dit volg op die voorval by Milnerton High School in Kaapstad, waar ‘n graad 10-leerder geboelie en aangerand is. Agt graad-11 leerlinge het verlede week in die hof verskyn op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die voorsitter van die komitee, Joy Maimela, sê die departement moet ‘n nasionale beleid ontwikkel om boeliegedrag doeltreffend aan te pak en te voorkom:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verwelkom die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte se besluit om die teen-MIV-middel Lenacapavir goed te keur. Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat die inspuiting goedgekeur het wat twee keer per jaar toegedien word. Lenacapavir is ‘n revolusionêre geneesmiddel wat ses maande lank beskerming bied. Motsoaledi sê die middel het die potensiaal om ernstige gapings in die huidige MIV-voorkomingsmetodes te oorbrug:
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut sê Suid-Afrika moet vals oplossings soos olie-, gas- en kernprojekte teenstaan wat ongelykheid laat voortduur en ‘n billike, hernubare oorgang vertraag. Dit volg te midde van voorstelle vir verskeie olie- en gasprojekte ter see, benewens Eskom se voorstel om die bedryfslewensduur van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad se Eenheid 2 te verleng. SAFCEI sê die regering moet hoërisiko-energieprojekte laat vaar wat die land se regverdige energie-oorgang ondermyn.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Jerry Flannery, sê hulle jaareindtoer gaan ‘n groot en uitdagende toets vir die span wees. Suid-Afrika draf in November uit teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die Bokke skop die toer Saterdag af met ʼn kragmeting met Japan op die Wembley-stadion in Londen. Flannery gee toe dat vyf toetse binne vyf weke die wêreldkampioen fisies en geestelik gaan uitdaag, maar glo dis presies die soort toets wat die groep nodig het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-150-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-915-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch het ‘n lys van vanjaar se ontvangers van eredoktorsgrade bekendgemaak. Die instelling ken elke jaar eredoktorsgrade toe aan buitengewone persone wat in hul velde uitblink en ‘n nalatenskap van toewyding en visie demonstreer wat toekomstige geslagte inspireer. Vanjaar se ontvangers is die Nobelpryswenner en internasionaal-bekroonde skrywer Abdulrazak Gurnah, die rampbestuurkundige Colin Deiner, die entrepreneur Chris Otto, die sosiale wetenskaplike en epidemioloog, Olive Shisana, en die innoveerder Tjaart Johannes van der Walt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….