Nuus 11:00
BULLETIN 28 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa is op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Switserland om bilaterale verhoudings te versterk
# Minister Motsoaledi sê die teen-MIV-inspuiting Lenacapavir is grensverskuiwend
# En ‘n waarskuwing dat Orkaan Melissa rampspoedige en lewensbedreigende oorstromings in Jamaika kan veroorsaak
# President Cyril Ramaphosa onderneem môre en Donderdag ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Switserland om politieke, ekonomiese en maatskaplike bande te versterk. Switserland bly een van Suid-Afrika se belangrikste Europese handelsvennote, met ‘n algehele handelsvolume van 18,2- miljard-rand verlede jaar. Die Presidensie sê ‘n belangrike fokus van die besoek is die bevordering van ‘n jeugsamewerkingsraamwerk wat gemik is op die bevordering van opleiding en vermoë-bou om jongmense toe te rus met vaardighede wat in die moderne ekonomie nodig is. Daar is tans 22 bilaterale ooreenkomste tussen die twee lande.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verwelkom die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte se besluit om die teen-MIV-middel Lenacapavir goed te keur. Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat die inspuiting goedgekeur het wat twee keer per jaar toegedien word. Lenacapavir is ‘n revolusionêre geneesmiddel wat ses maande lank beskerming bied. Motsoaledi sê die middel het die potensiaal om ernstige gapings in die huidige MIV-voorkomingsmetodes te oorbrug:
# ActionSA in Johannesburg het ‘n regsgeding van agt van sy raadslede afgeweer. Die raadslede is einde verlede maand uit hul posisies verwyder toe die party volgens berigte swak prestasie as een van die redes vir hul verwydering aangevoer het. Die agt beweer hulle het nie ‘n billike verhoor gehad of ‘n kans gekry om te appelleer nie, daarom het hulle die hof genader. Die raadslede se woordvoerder, Elmari Atterbury, sê ActionSA het gister hul regsverteenwoordigers gekontak om ‘n oplossing te vind:
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se Nasionale Orkaansentrum waarsku Orkaan Melissa wat Jamaika na verwagting vandag bereik, sal rampspoedige en lewensbedreigende wind, oorstromings en stormstuwings veroorsaak. Die kategorie vyf-storm het volgens berigte reeds drie sterftes in Jamaika veroorsaak, en vier in Haïti en die Dominikaanse Republiek. ʼn Woordvoerder van die sentrum, Michael Brennan, sê hulle verwag ernstige skade en die verwoesting van skuilings, huise en ander geboue in die middelpunt van die storm. Waarskuwings is ook uitgereik vir Kuba en die suidooste van die Bahamas.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Jerry Flannery, sê hulle jaareindtoer gaan ʼn groot en uitdagende toets vir die span wees. Suid-Afrika draf in November uit teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die Bokke skop die toer Saterdag af met ʼn kragmeting met Japan op die Wembley-stadion in Londen. Flannery gee toe dat vyf toetse binne vyf weke die wêreldkampioen fisies en geestelik gaan uitdaag, maar glo dis presies die soort toets wat die groep nodig het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-186-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-944-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….