Nuus 18:00
BULLETIN 27 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership Suid-Afrika sê die verwydering van die gryslys wys instellings kan herbou word ná staatskaping
# Die Aurbrey Tau-stigting bied ‘n beloning van 250-duisend rand aan na die moord op twee vroue in Mamelodi
# En tennis: Alcaraz voel behoorlik uitgerus voor die Paryse Meesterstoernooi
# Business Leadership South Africa sê Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys bewys die regering kan die instellings herbou wat deur staatskaping beskadig is. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, het in haar weeklikse nuusbrief gesê die sukses spruit uit duidelike verantwoordbaarheid, samewerking tussen die regering en die sakewêreld, en werklike bedryfs-verbeterings. Mavuso het bygevoeg dieselfde benadering moet nou toegepas word op hervorming in energie, logistiek en water, om die ekonomie te versterk en beleggersvertroue te herstel.
# Die DA sê strafregtelike aanklagte moet versnel word teen die tenderpreneur Hangwani Maumela en ander sleutelfigure in die Tembisa-hospitaal. Dit volg op berigte dat Maumela ‘n eksotiese Italiaanse motor van 52-miljoen-rand gekoop het terwyl hy na bewering 816-miljoen-rand uit hospitaalkontrakte gedreineer het. Jack Bloom van die party sê die geld kon talle dokters, verpleegkundiges of nuwe mediese toerusting befonds het. Hy waarsku dat politieke verbintenisse nie geregtigheid moet vertraag in hierdie skandaal waarby 2,3-miljard-rand betrek word nie:
# Die Aubrey Tau-stigting het ‘n beloning van 250-duisend-rand uitgeloof vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming van verdagtes in die moorde op die niggies Tshiamo en Baleseng Moramaga in Mamelodi, Gauteng. Die liggame van die 22-jarige en die 21-jarige vrou is gisteroggend in Sompisistraat ontdek. Die jong vroue, beskryf as onafskeidbaar en vol belofte, het loopbane in onderwys en skoonheidsterapie gevolg. Die polisie het ‘n dubbelle-moordondersoek van stapel gestuur.
Nuus uit die buiteland:
# Die Namibiese president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het regstreekse beheer oor die ministerie van Mynwese, Energie en Nywerheid oorgeneem. Sy het adjunk-eerste-minister Natangwe Ithete uit sy dubbele rol verwyder. Die Presidensie sê die verandering is daarop gemik om koördinering te versterk in Namibië se noodsaaklike hulpbronsektore, insluitend in die uraan-, die diamant- en die opkomende oliebedryf. Ontleders sê die skuif dui op ‘n strategiese keerpunt na gesentraliseerde toesig terwyl Namibië voorberei vir groot olieproduksie teen 2030 en probeer om globale beleggings te lok.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, sê hy is in hierdie stadium van die seisoen fikser as ooit tevore. Die Spanjaard is gedwing om hom aan die Sjanghaise Meesterstoernooi te onttrek en het langer as drie weke afgeneem om sy linkerenkel te laat herstel. Hy speel hierdie week in die Paryse Meesterstoernooi. Alcaraz begin sy veldtog teen die Brit Cameron Norrie. Alcaraz sê hy is realisties, maar optimisties oor sy kanse in die Franse hoofstad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-623-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….