Nuus 16:00
BULLETIN 27 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oos-Kaapse onderwyser word borgtog geweier op aanklagte van mensehandel
# Orkaan Melissa versterk met wind van tot 260-kilometer per uur
# En krieket: ‘n Indiese speler beland in die hospitaal met ‘n geskeurde milt
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die borgtog van die 52-jarige onderwyser Vuyokazi Gana suksesvol teengestaan. Sy word beskuldig van mensehandel, dat sy ‘n bordeel bestuur het en wins maak uit prostitusie. Die Oos-Londense Landdroshof het beslis dat geen buitengewone omstandighede haar vrylating regverdig nie. Gana, wat op 15 Oktober in hegtenis geneem is, het na bewering jong vroue tot prostitusie gedwing. Luxolo Tyali van die NVG sê die hof beklemtoon die erns van die oortredings:
# Die GOOD-party het ‘n klagte van bedrog teen twee Wes-Kaapse LUR’e ingedien, omdat hulle na bewering verlede jaar willens en wetens ‘n bedrieglike provinsiale begroting ter tafel gelê het. Die klagte teen die LUR vir Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, en die LUR vir Onderwys, David Maynier, is by die Kaapstad Sentraal-polisiestasie ingedien. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê twee-duisend-400 onderwysposte is in 2024 se begroting met 3,8-miljard-rand onderbefonds, al was albei LUR’e bewus van die tekort:
Nuus uit die buiteland:
# Orkaan Melissa het versterk tot ‘n topvlak kategorie 5-storm terwyl dit in die rigting van Jamaika en ander dele van die Karibiese Eilande beweeg. Die Amerikaanse Nasionale Orkaansentrum sê Melissa bereik tans windsterktes van byna 260 kilometer per uur. Reënval van tot ‘n meter word voorspel, met oorstromings wat na verwagting kitsvloede en grondstortings in Jamaika, Haïti en die Dominikaanse Republiek sal veroorsaak. Melissa het reeds minstens vier sterftes in Haïti en die Dominikaanse Republiek veroorsaak, terwyl swaar reën en grondstortings reeds voorkom.
# Krieket: Die Indiese kolwer Shreyas Iyer is in die hospitaal nadat hy verlede week sy milt geskeur het tydens ‘n vangskoot in Sydney teen Australië. Hy het ‘n besering aan sy linker-ribbekas opgedoen terwyl hy agteruit gehardloop het om Alex Carey uit te vang. Dit was een van die belangrike oomblikke in die derde eendag-wedstryd wat Indië met nege paaltjies gewen het. Indië het egter die reeks 1-2 verloor nadat Australië die eerste twee kragmetings in Perth en Adelaide gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-275-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-38-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, Oliver en Adelaide Tambo is vandag tydens ‘n kranslegging-seremonie by die Tamboville-begraafplaas in Gauteng vereer vir hul belangrike rol in Suid-Afrika se bevrydingstryd. Die geleentheid is aangebied deur die Oliver en Adelaide Tambo-stigting in vennootskap met die Stad Ekurhuleni. Die ANC se adjunk-streeksekretaris, Moipone Mhlongo, het hulde gebring aan hul nalatenskap en Tambo se lewenslange toewyding, leierskap en blywende bydraes tot die vryheidstryd uitgelig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….