Nuus 15:00
BULLETIN 27 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party dien ‘n klagte van bedrog in teen twee Wes-Kaapse LUR’e oor ‘n beweerde vals begroting
# SAFTU vra volledige strafregtelike vervolging in tenderplunderingskandaal by die Tembisa-hospitaal
# En krieket: Australië se kaptein gaan die eerste toets om die As misloop
# Die GOOD-party het ‘n klagte van bedrog teen twee Wes-Kaapse LUR’e ingedien, omdat hulle na bewering verlede jaar willens en wetens ‘n bedrieglike provinsiale begroting ter tafel gelê het. Die klagte teen die LUR vir Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, en die LUR vir Onderwys, David Maynier, is by die Kaapstad Sentraal-polisiestasie ingedien. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê twee-duisend-400 onderwysposte is in 2024 se begroting met 3,8-miljard-rand onderbefonds, al was albei LUR’e bewus van die tekort:
# Die vakbondfederasie SAFTU vra die Spesiale Ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag om te verseker Hangwani Maumela word bygevoeg as ‘n beskuldigde in die strafregtelike vervolging van die sogenaamde Matlala-saak. Asive Dyani van SAFTU sê Maumela is identifiseer as ‘n belangrike figuur in die plundering van openbare gesondheidsfondse by die Tembisa-hospitaal en word verbind met die plundering van ten minste 800-miljoen-rand deur dopmaatskappye. Sy sê dit weerspieël ‘n strukturele probleem met tendersindikaat-netwerke in die gesondheidsektor.
# Die MK-party sê hy is steeds diep bekommerd is oor die onverpoosde toename in onwettige tabak- en alkoholhandel, wat wettige nywerhede ondermyn en die staat van noodsaaklike inkomste ontneem. Des van Rooyen van die party sê Suid-Afrika se poreuse toegangspoorte dien steeds as toevoerkanaal vir smokkelary en onwettige finansiële bedrywighede, wat Suid-Afrika miljarde-rand in verlore inkomste en geleenthede vir werkskepping kos:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die verpolitisering van ekonomiese data kan ernstige gevolge vir wêreldekonomieë inhou. Hy waarsku wanneer statistieke nie geloofwaardig of onafhanklik is nie, sukkel regerings om doeltreffend te beplan, sakevertroue gaan verlore en burgers word mislei. Die buro noem probleme in Amerika, China en die Verenigde Koninkryk, waar inmenging en onderbefondsing die akkuraatheid van data beïnvloed het. In Suid-Afrika bestaan kommer oor onakkurate landbou-bruto binnelandse produkdata en die geloofwaardigheid van 2022 se sensus.
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, is nie beskikbaar vir die eerste toets om die As teen Engeland nie. Die 32-jarige sukkel met ‘n laerug-besering. Die eerste wedstryd begin op 21 November in Perth, met Steve Smith wat die span in Cummins se afwesigheid sal aanvoer terwyl Scott Boland waarskynlik die plaasvervanger in die boulaanval sal wees. Afrigter Andrew McDonald sê hulle hoop Cummins sal gereed wees vir die tweede toets wat op 4 Desember in Brisbane begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-270-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….