Nuus 12:00
BULLETIN 27 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se stigting sê die beslissing oor sy regskoste weerspreek grondwetlike beginsels
# Eskom gaan meer opwekkingsvermoë in die netwerk plaas om netwerkbestendigheid te versterk
# En rugby: Rassie Erasmus is vol hoop vir die jaareind-toetse
# Die JG Zuma-stigting het die onlangse uitspraak oor oudpresident Jacob Zuma se regskoste gekritiseer en sê dit dui op die voortgesette ongeregtighede teenoor hom. Die Gautengse Hooggeregshof het Zuma verlede week beveel om 28,9-miljoen-rand van die wapenskandaal-saak se regskoste aan die staat terug te betaal. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê Zuma is geregtig om ‘n eis vir skadevergoeding teen die staat in te stel vir die finansiële en persoonlike skade wat hy weens die onreg verduur:
# Eskom beplan om dié week altesaam een-duisend-715-megawatt se opwekkingsvermoë in die netwerk terug te plaas om die netwerkbestendigheid verder te versterk. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê Eskom het gedurende die tydperk tussen 10 en 23 Oktober gemiddeld nege-duisend-954 megawatt in onbeplande onderbrekings aangeteken. Sy sê dit is ‘n verbetering vanaf die 11-duisend-155-megawatt gedurende dieselfde tydperk verlede jaar:
# President Cyril Ramaphosa sê konflik en oorloë, handelsgeskille, die energieoorgang en die pas van die digitale revolusie hervorm die internasionale orde. Hy het ʼn openbare lesing by die Universiteit van Malaya gelewer. Ramaphosa sê die skietstilstand tussen Israel en Hamas word verwelkom, maar daar bestaan kommer oor voortgesette aanvalle op Gaza en die Wesoewer. Hy sê die internasionale gemeenskap moet toesien dat die vredesooreenkoms ʼn pad vorentoe bied vir ʼn Palestynse staat en selfbeskikking:
# Pakistan se minister van Verdediging, Khawaja Muhammad Asif, het ‘n waarskuwing gerig dat mislukking in die voortgesette vredesonderhandelinge met die Taliban in Istanbul tot volskaalse oorlog langs die gedeelde grens met Afganistan kan lei. Die gesprekke is daarop gemik om ‘n onlangse wapenstilstand te verstewig en ‘n daadwerklike moniteringsmeganisme te vestig om oorgrens-aanvalle deur die Tehreek-i-Taliban Pakistan te voorkom. Islamabad dring ondanks ‘n tydelike staking van geweld daarop aan dat Kaboel stappe moet doen om bestendigheid te verseker.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is vol hoop vir hulle veeleisende Europese toer van vyf weke. Suid-Afrika speel volgende maand in die Noordelike Halfrond teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die eerste groep spelers en bestuurslede het die naweek vertrek, en die volledige groep kom vandag in die Verenigde Koninkryk byeen voor Saterdag se eerste toerwedstryd teen Japan op Wembley in Londen. Erasmus erken die toer gaan ʼn uitdaging wees weens die gehalte van hul teenstanders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-530-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-59-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….