Nuus 11:00
BULLETIN 27 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ekonomiese verhouding tussen Suid-Afrika en Maleisië hou enorme potensiaal in
# Die kommissaris van die Inkomstediens sê die stryd teen finansiële misdade en korrupsie hou nooit op nie
# En rugby: Rassie Erasmus is vol hoop vir die jaareind-toetse
# President Cyril Ramaphosa sê die ekonomiese verhouding tussen Suid-Afrika en Maleisië hou enorme potensiaal in. Suid-Afrika is Maleisië se grootste handelsvennoot in Afrika. Ramaphosa het ‘n openbare lesing gelewer toe hy vandag ʼn eredoktorsgraad in Internasionale Betrekkinge van die Universiteit van Malaya ontvang het. Hy sê die twee nasies bou handel- en beleggingsbande op die fondament van hul diplomatieke verhouding:
Ramaphosa het ook gesê konflik en oorloë, handelsgeskille, die energie-oorgang en die pas van die digitale revolusie hervorm die internasionale orde. Hy sê die skietstilstand tussen Israel en Hamas word verwelkom, maar volgens hom bestaan kommer oor voortgesette aanvalle op Gaza en die Wesoewer. Hy sê die internasionale gemeenskap moet toesien dat die vredesooreenkoms ʼn pad vorentoe bied vir ʼn Palestynse staat en selfbeskikking:
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê die land se verwydering van die gryslys is ‘n mylpaal op ‘n langtermynreis na die bou van ‘n sterk en veerkragtige finansiële ekostelsel. Suid-Afrika is amptelik van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys afgehaal ná hy suksesvol belangrike hervormings ingestel het om geldwassery en die finansiering van terrorisme te bestry. Kieswetter sê dit is ‘n mosie van vertroue, maar beteken nie ‘n einde aan waaksaamheid nie. Hy voeg by die stryd teen finansiële misdaad en korrupsie is ‘n voortdurende een.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is vol hoop vir hulle veeleisende Europese toer van vyf weke. Suid-Afrika speel volgende maand in die Noordelike Halfrond teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die eerste groep spelers en bestuurslede het die naweek vertrek, en die volledige groep kom vandag in die Verenigde Koninkryk byeen voor Saterdag se eerste toerwedstryd teen Japan op Wembley in Londen. Erasmus erken die toer gaan ʼn uitdaging wees weens die gehalte van hul teenstanders.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-75-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-74-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte; Die ANC herdenk vandag die lewe en nalatenskap van die struggle-ikoon en gewese partypresident, wyle Oliver Tambo. Hy was drie dekades lank die ANC-president in ballingskap, en het ʼn belangrike rol gespeel om internasionale steun teen apartheid te kry. Die geleentheid vind in Ekurhuleni plaas en sluit ʼn kransleggingseremonie in terwyl adjunkpresident Paul Mashatile die jaarlikse OR Tambo-gedenklesing sal lewer. Die lesing se tema is: Die bevestiging van ons stryd se morele kompas: eenheid, integriteit en hernuwing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….