Nuus 08:00
BULLETIN 27 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die Afrikaners wat hulle uitspreek teen die misbruik van hul identiteit in die VSA
# ‘n Moontlike staking dreig in die motorbedryf
# En die VSA en China het ooreengekom oor ‘n moontlike handelsooreenkoms
# Die ANC sê hy verwelkom Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaners se standpunt. Byna 50 Afrikaner-akademici, -kerkleiers en ander -beroepspersone het saam ‘n brief geskryf en geteken met die titel: Not in our Name: Afrikaners Respond to the Misuse of Their Story in US Politics. In die brief verwerp hulle die Amerikaanse siening wat Afrikaners as slagoffers van rassevervolging in post-apartheid Suid-Afrika uitbeeld. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê hulle waardeer die groep se verwerping van pogings om die land se geskiedenis te verdraai en tot voordeel van sogenaamde verregse agendas in die buiteland te gebruik.
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA sê hy het ʼn dooiepunt bereik in sy salarisonderhandelinge in die voertuigbedryf en ʼn staking is moontlik. Die dooiepunt het betrekking op die verhoging wat werkgewers aanbied om die onderhandelinge vir die volgende drie jaar af te handel. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle het ʼn 6,5-persent salarisverhoging vir die eerste jaar en vyf-persent vir die volgende twee jaar verwerp:
# Die MK-party sê hy het sy oproep vir omvattende leefstyloudits vir alle lede van die regbank wat deur die staatskas befonds word, herhaal. Dit volg op die plofbare getuienis by die Madlanga-kommissie wat beweer dat die waarnemende regterpresident van Gauteng, regter Aubrey Ledwaba, omgekoop is vir 2,5-miljoen-rand om borgtog aan die vermeende kartelbaas Katiso “KT” Molefe toe te staan. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, dring daarop aan dat beslissende maatreëls toegepas word om openbare vertroue te herstel, korrupsie uit te roei en die gelyke toepassing van die oppergesag van die reg te verseker:
# Amerika het ʼn raamwerkooreenkoms met China bereik om te keer dat ʼn bykomende 100-persent tarief op Chinese invoere gehef word. Dit kom in aanloop tot Donderdag se belangrike ontmoeting tussen president Donald Trump en sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping. Die Chinese regering sê in ʼn verklaring albei onderhandelingspanne het ʼn basiese ooreenkoms bereik oor reëlings om hul onderskeie bekommernisse te bespreek. Washington het ook ingestem tot en handelsooreenkomste met Maleisië en Kambodja aangegaan, terwyl daar met Thailand en Viëtnam oor raamwerke ooreengekom is.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het uit sy voorste wegspringplek ʼn besliste oorwinning behaal by die Mexiko-stad Grand Prix, en loop nou voor in die bestuurderskampioenskap. Die Brit het 30 sekondes voor Charles Leclerc van Ferrari oor die wenstreep gejaag met Max Verstappen van Red Bull in die derde plek. Haas-renjaer Ollie Bearman het die eerste vierde plek van sy loopbaan behaal en Oscar Piastri van McLaren was vyfde. Norris, wat een punt voor sy spanmaat Piastri is, sê met vier wedrenne oor, fokus hy op sy eie prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-121-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-74-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….