Nuus 07:00
BULLETIN 27 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy nooi die privaat sektor uit om te help met die passasierspoornetwerk
# Die vliegtuigongeluk sal nie skoolbedrywighede by Hoërskool Alberton ontwrig nie
# En twee verdagtes is in hegtenis geneem vir die diefstal van kosbare juwele uit die Louvre-museum
# Die regering het ‘n reeks versoeke vir inligting uitgereik om idees en beleggings uit die privaat sektor te kry om Suid-Afrika se spoornetwerk te moderniseer en uit te brei. Die versoek sluit ʼn reeks areas in, soos reisgeldstelsels, depotbestuur en die kommersialisering van die Passasierspooragentskap se veselnetwerk om digitale verbinding te bevorder. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê hierdie versoeke is nie tenders nie, maar ʼn uitnodiging aan die mark om die regering te help om die spoorweg se toekoms te ontwerp:
# Die Jacob G. Zuma-stigting het kennis geneem van die hersirkulasie van ‘n ou fondsinsamelingsplakkaat vir president Zuma se regskoste. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê die stigting het geen fondsinsamelingsveldtogte van hierdie aard gemagtig nie. Hy het herhaal die stigting sal slegs reaksie lewer op die onlangse uitspraak teen die voormalige president om sy staatsgeborgde regskoste terug te betaal, nadat die raadpleging met die regspan afgehandel is:
# Die Lugvaartowerheid het met ʼn ondersoek begin nadat ʼn ligte vliegtuig gister in die snoepie van Hoërskool Alberton in Ekurhuleni beland het. Die vlieënier en die instrukteur aan boord het volgens berigte geen beserings opgedoen nie. Die Gautengse Onderwysdepartement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die voorval sal nie skoolbedrywighede of die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen ontwrig nie:
# Franse polisie het twee verdagtes gearresteer in verband met die diefstal van kosbare juwele uit die Louvre se Apollo-galery in Parys. Agt stukke ter waarde van sowat 1,2-miljard-rand is verlede Sondag uit die wêreld se gewildste museum gesteel toe vier diewe helderoordag by die gebou ingebreek het. Volgens berigte is albei in hulle dertigs, bekend aan die polisie, met misdaadrekords vir rooftogte. Veiligheidsmaatreëls by Frankryk se kultuurinstellings is sedertdien verskerp.
# Tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner het sy vierde titel van die seisoen en sy 22ste loopbaan-kroon gebuit toe hy die Weense Ope in Oostenryk gewen het. Die Italianer was een stel agter, maar het ingehaal en die Duitser, Alexander Zverev, geklop. Die 24-jarige Sinner is die eerste man wat agt ATP-eindwedstryde in agtereenvolgende seisoene haal sedert die Serwiër, Novak Djokovic, dit in 2015-2016 reggekry het. Sinner sê dis wonderlik om nog ʼn titel te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-111-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-89-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Senior publieke reg-professor Nomthandazo Ntlama-Makhanya aan die Fort Hare-universiteit is erken as een van Suid-Afrika se invloedrykste vroue en het die Mail & Guardian Power of Women-toekenning in die kategorie Reg en Geregtigheid gewen. Die universiteit sê die eerbewys is ‘n gepaste erkenning van Ntlama-Makhanya se dekade lange akademiese werk, mentorskap en diens in die regsberoep. Die universiteit sê die Power of Women-toekennings vereer vroue wat merkwaardige bydraes reg oor Suid-Afrika lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….