Nuus 06:00
BULLETIN 27 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi gelas ’n ondersoek nadat Francesca Albanese onreëlmatig met hofstukke bedien is
# Die MK-party sê Suid-Afrika se verwydering van die gryslys lei nie noodwendig tot beleggings nie
# En motorsport: Alex Marquez wen in Maleisië en verower die tweede plek in die MotoGP-wêreldkampioenskap
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ‘n ondersoek gelas nadat die spesiale verslaggewer van die Verenigde Nasies oor die besette Palestynse gebiede, Francesca Albanese, onreëlmatig deur ‘n balju met hofstukke beteken is. Die voorval het plaasgevind terwyl Albanese Saterdag in Suid-Afrika was vir ‘n geleentheid van die Nelson Mandela-stigting. Die departement het bevestig die betekening van die hofstukke was ongemagtig en behoorlike wetlike en diplomatieke protokolle is nie gevolg nie. Kubayi het Albanese verskoning gevra en die voorval as betreurenswaardig beskryf.
# Die MK-party sê hulle waarsku dat Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys nie noodwendig lei tot groter beleggings of beter ekonomiese omstandighede vir mense nie. Des Van Rooyen van MK sê dis nog ‘n illusie wat deur die eerste wêreld aangebied word, wat voorhou dat slegs die nakoming van en belyning met hul belange voorspoed sal lewer. Hy sê die geskiedenis het getoon dat sulke verwagtinge nooit ‘n werklikheid word nie:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal nie by die Stad Johannesburg se raad inmeng oor die aanstelling van die stadsbestuurder nie. Die ANC sal die proses met insette volg. Die raad het verlede week ‘n verslag teruggetrek wat Floyd Brink se aanstelling in die pos aanbeveel. Brink is twee keer verwyder nadat die Hooggeregshof in Johannesburg beslis het dat sy aanstellings in 2023 en 2024 onreëlmatig was. Mbalula sê die ANC sal vandag vergader om sy steun vir die aanstelling van die nuwe stadsbestuurder af te handel:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het die raadgewende opinie van die Internasionale Geregshof verwelkom wat die Palestynse volk se reg op ‘n onafhanklike en soewereine staatskap en selfbeskikking herbevestig. Pius Vilakati van die SAKP sê hierdie grondliggende reg is deur die apartheid-Israel-regime onderdruk sedert Palestina vanaf 1947 binnegeval en beset is. Hy sê die regime het hongersnood as deel van sy volksmoordaanval op Gaza gebruik en dringend nodige humanitêre hulp geblokkeer:
# Motorsport: Die MotoGP-renjaer Gresini Racing, Alex Marquez, het sy derde oorwinning van die seisoen behaal by die Maleisiese Grand Prix. Die 29-jarige Spanjaard het meer as twee sekondes voor sy landgenoot Pedro Acosta vir Red Bull KTM Racing geëindig, met Honda se Joan Mir in die derde plek. Marquez is nou in die algehele tweede plek in die Wêreldkampioenskap agter die kampioen, sy broer Marc, wat weens ‘n besering nie deelgeneem het nie. Brad Binder het negende vir Red Bull KTM geëindig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-618-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-67-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Energiedirektoraat het aangekondig dat sy Paardevlei 132-kilovolt-skakelstasie twee groot toekennings ontvang het. Die stasie het silwer ontvang by die Internasionale Projekbestuursvereniging Globale Projekuitnemendheidstoekennings 2025 en was naaswenner by die Projekbestuursberaad se Prestige-toekennings 2025. Burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê hierdie toekennings demonstreer uitnemendheid in infrastruktuurlewering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….