Nuus 13:00
BULLETIN 26 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die Madlanga-kommissie en ad hoc-komitee is noodsaaklik om misdadigheid te beëindig
# Die DA doen ‘n beroep op die polisiebestuur om die toename in selfdood in die diens aan te spreek
# En die Louvre verskuif van sy juwele na die Bank van Frankryk
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die Madlanga-kommissie van ondersoek en die Parlement se ad hoc-komitee oor politieke inmenging is noodsaaklik om misdaad te beveg en oortreders voor die gereg te bring indien hulle betrek word by vergrype. Mbalula het by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Soshanguve gepraat tydens die 100ste verjaardagviering van die struggle-ikoon Tlou Theophilus Cholo:
# Die DA sê hulle is ernstig bekommerd oor die stygende toename van selfdood in die polisie. Die party sê onlangse verslae toon dat gemiddeld een polisiebeampte per week sy of haar eie lewe neem. Lisa Schickerling van die DA het die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola en die polisiebestuur versoek om dringende, beslissende stappe te doen om die krisis aan te spreek, insluitend die onmiddellike bekendstelling van verpligte en vertroulike geestesgesondheidsondersteuning en ontlontingsessies na traumatiese voorvalle:
# Die polisie in Limpopo het ‘n saak van strafbare manslag geopen na die dood van ‘n sesjarige meisie. Die polisiewoordvoerder Malesela Ledwaba sê ‘n 34-jarige bestuurder van ‘n skoolbus was besig om leerders by Ga-Molepo in Laastehoop, op te laai op pad na ‘n plaaslike laerskool. Hy sê leerders het mekaar begin rondstamp toe hulle op die bus wou klim. Ledwaba sê terwyl hy probeer het om die bus te parkeer, het die bestuurder per ongeluk oor die sesjarige leerder gery:
# Die Louvre het volgens die Franse radiostasie RTL van sy kosbaarste juwele na die Bank van Frankryk oorgeplaas na ‘n gewaagde rooftog helder oordag verlede week. Die kosbare items is Vrydag onder geheime polisiebegeleiding uit die museum se Apollo-galery, die tuiste van die Franse kroonjuwele, verskuif. Die diewe het vroeër verlede week agt waardevolle stukke ter waarde van ‘n geraamde 1,1-miljard-rand uit die Louvre se versameling gesteel, wat sekerheidsgapings ontbloot het. Hulle het by die museum ingebreek met ‘n hyskraan en ‘n boonste venster tydens museum-ure stukkend geslaan, waana hulle op motorfietse gevlug het.
# Tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner van Italië het die Weense Ope-eindronde gehaal nadat hy die Australiër Alex De Minaur gister in skoon stelle geklop het. Sy oorwinning onderskryf 20 agtereenvolgende oorwinnings op binnenshuise hardebane en 50 oorwinnings teen top-10-teenstanders. Die 24-jarige Sinner sal later vandag teen Alexander Zverev van Duitsland in die eindstryd te staan kom. Zverev, die 2021-kampioen, het die vierde gekeurde Lorenzo Musetti van Italië met 6-4, 7-5 geklop en in die proses nege kishoue geslaan om sy 300ste hardebaan-oorwinning te behaal.
# En ten slotte: Die regering het Qhawekazi Mazaleni gelukgewens met haar kroning as Mej. Suid-Afrika 2025 gister tydens ‘n spoggeleentheid in Pretoria. Die woordvoerder, William Baloyi, sê op die jong ouderdom van 24 het die Oos-Kaapse skoonheid en jeugambassadeur die nasie trots gemaak met haar merkwaardige prestasie. Hy sê die regering wens Mazaleni alles van die beste toe met die begin van haar termyn waartydens sy steeds jong vroue sal inspireer om hul drome na te jaag en positief tot die samelewing by te dra:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….